AARDKLOP 2018: “My Seuns.”

Met: Sandra Prinsloo, André Odendaal, Sandi Schultz, Edwin van der Walt, Donovan Pietersen, Buhle Ngaba
Teks & Regie: Christo Davids
Ontwerp: Wilhem Disbergen
Klankbaan: Les Javan
Verhoogbestuur: Mariska Meyer
3 Oktober 2018, 20:00
Banketsaal

“My Seuns” pas in by daardie versameling dramatekste waar familie nie geborgenheid voorstel nie, maar ‘n slagveld. Soos in “Lang Dagreis na die Nag” (Eugene O’Neill), “August Osage County” (Tracy Letts) en “Festen” (Thomas Vinterberg/David Elridge), is daar konflik binne die Van der Merwe-familie, wat oor dekades lê en gis het. Christo Davids het wel Arthur Miller se “All My Sons” as inspirasie gebruik, maar sy transponering van die gegewe na die Suid-Afrikaanse konteks skep ‘n innoverende, komplekse nuwe teks.

Drie generasies kom op een dag bymekaar: dit is Ouma Alet (Sandra Prinsloo) se tagtigste verjaarsdag en ‘n klein partytjie vir die naaste familie, en die enkele vriende wie Alet nog nie vervreem het nie, vind by haar enigste seun, Le Roux (André Odendaal) en sy vrou, Joy (Sandi Schultz) se huis plaas. Hulle huwelik oor die kleurgrens is steeds vir Alet ‘n doring in die vlees. Die feit dat hul oudste seun, Ben (Donovan Pietersen), bruin lyk, terwyl die jongste, Tyron (Edwin van der Walt), wit lyk, veroorsaak verdere spanning tussen die karakters. Op die dag van die partytjie bars al die onderliggende griewe tussen die karakters oop. Die argumente lei soms tot vuisgevegte en niks word ontsien nie.

Hierdie ontstellende bakleiery gaan egter ook gepaard met absurditeite. Dit is veral Alet en haar toestand van dimensie wat vir verskeie oomblikke van komiese verligting sorg. Die balans tussen die wroeging en die humor is perfek en myns insiens die stuk se sterkste punt. ‘n Mens wil jou by tye doodlag, totdat jy agterkom presies hoe tragies die situasie is wat voor jou afspeel en jou emosie dan draai. Ander kere, is jy na aan trane, tot die wroeging op die verhoog absurde afmetings aanneem en jy uitbars van die lag.

Die stuk het effens stram begin, maar toe dit eers op dreef kom, was die ritme en spanning presies in plek. Dit was soos om na ‘n opwindende boksgeveg te kyk, en hoewel die inhoud van die stuk by tye regtig ontstellend is, veral omdat dit vele van die onoplosbare probleme waarmee ons as Suid-Afrikaners vandag sukkel aanspreek, het ek my deurgaans verlekker in die akteurs se spelvernuf.

Soos gewoonlik het Wilhelm Disbergen se stel nie teleur gestel nie. Die gebeure speel af op die stoep en in die tuin van die Van der Merwe-gesin, met die fasade van die huis in die agtergrond. Die stoep en stoeptrappies skep verskillende vlakke waarop die karakters mekaar kan konfronteer en die fasade met twee skuifdeure bied vir hulle van tyd tot tyd ‘n blaaskans van die dik atmosfeer buite.

“My Seuns” is beslis ‘n Aardklop-hoogtepunt en beïndruk met teks, spel en stel.

AARDKLOP 2015: “Siener in die Suburbs.”

Deur: P.G. du Plessis
Met: Shaleen Surtie-Richards, Christo Davids, Brendon Daniels, Ivan Abrahams, Crystal-Donna Roberts, Dann-Jacques Mouton en Andrea Frankson
Regie deur: Heinrich Reisenhofer
9 Oktober: 9:00
Ouditorium

Siener in die Suburbs is die eerste maal in 1971 deur die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) opgevoer. In pas met die kitchen sink dramas wat sedert die 1950s op veral Britse verhoë gesien is (Law, 2011: 276), skets Siener in die Suburbs ’n toneel van armoede en desperaatheid. Soos die kitchen sink dramas het Siener in die Suburbs ook aanvanklik sommige middelklasgehore geskok en afgesit. Volgens die Clover Aardklop Feesgids (2015:24) kon hierdie gehore hulle nie indink dat daar werklik mense soos dié in Siener in die Suburbs bestaan nie.

Sedertdien het hierdie teks volksbesit geword. Dit het onder andere in 2002 ’n herlewing beleef met Sandra Prinsloo in die rol van Ma terwyl sy in die aanvanklike opvoering die rol van Tiemie vertolk het. Daar is verskeie redes waarom die stuk gewild bly. Vir my staan die uitstekend beheerde tempo uit; die manier waarop spanning stadig maar seker bou. Die klimaks is onvermydelik maar steeds skokkend. Die balans tussen die komiese en die tragiese is fyn en gepas. Die karakters is volrond: op die verhoog word hulle ménse. Hulle is nie bloot personasies of spreekbuise vir die dramaturg nie. Die stuk is lank genoeg vir die gehoor om betrokke te raak by hul doen en late. Soos die gemeenskappe wat die inspirasie was vir Siener in die Suburbs, bestaan hierdie mense.

Daarom is Heinrich Reisenhofer se verplasing van die drama na die hedendaagse Kaapse Vlakte moeiteloos. Klein veranderings is aangebring. In plaas daarvan dat Fé en Albertus na Tiemie se nuwe plaat moet gaan luister, moet hulle na haar nuwe CD luister en die 1948-Buick is vervang met ’n Volkswagen Citi Golf. Behalwe vir opgedateerde kostuums en rekwisiete was die opvoering baie getrou aan die teks (ek het veral die “spreuk” wat lyk asof dit by Mr Price Home gekoop is geniet).

Die aspek wat my egter die meeste beïndruk het was die uitmuntende spel. Hierdie produksie wys wat die kombinasie van fantastiese akteurs en ’n uitstekende teks kan bied. Elke akteur het reg laat geskied aan sy of haar volronde karakter. Christo Davids verstaan Tjokkie se siniese onbetrokkenheid. Crystal-Donna Roberts weet dat Tiemie nie eintlik in die Suburbs hoort nie en bestem is vir beter dinge. Shaleen Surtie-Richards wórd Ma in haar wysheid en empatie maar ook in haar swakheid. Ivan Abrahams se onopregte glimlag soos hy, as die opportunistiese Giel, vir Tjokkie teister bly my steeds by. My enigste punt van kritiek is dat Brendon Daniels nie altyd goed genoeg geartikuleer het nie, hoewel hy absoluut oortuig het as die boelie, Jakes.

Verplasings van gekanoniseerde dramas is tot ’n sekere mate ’n dobbelspel. Dit kan óf ’n dawerende sukses wees, of ’n vreeslike flop. Heinrich Reisenhofer se Siener in die Suburbs is ’n dawerende sukses.

Bronnelys:

Aardklop. 2015. Clover Aardklop Feesgids. [Potchefstroom].

Law, Jonathan., ed. 2011. The Methuen drama dictionary of the theatre. London: Methuen.