AARDKLOP 2016: “Beurtkrag.”

Deur: Stiaan Smith
Met: Ivan Botha, Donnalee Roberts
Regie: Jozua Malherbe
Vervaardiger: 17 Filmstreet Media en Artist Warehouse CC
8 Oktober 2016, 20:00
kykNET Gimmies

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Jasper (Ivan Botha) en Fransie (Donnalee Roberts) is smoorverlief en dolgelukkig en trek saam in. Die krag gaan af. Hulle begin vry, maar die atmosfeer word bederf deur ’n ou argument: destyds, nog voor hulle amptelik ’n paartjie was, het Jasper vir Fransie verneuk en sy sukkel steeds om hom heeltemal te vergewe. Die argument gaan sover dat hulle besluit om op te breek. Sy reël om by ’n vriendin te gaan oorslaap en hy beplan om haar uit die woonstel uit te koop. Hy maak egter ’n dramatiese liefdesverklaring en sy besluit om te bly. Die narratief word aangehelp met simboliese rekwisiete: ’n vieslike speelgoedswaard en Hitchcock, ’n Franse dashond uit porselein. Sy weier aanvanklik om die swaard, wat vir hom sentimentele waarde het, in die woonstel op te sit en hy breek per ongeluk die porseleinhond, wat weer vir haar sentimentele waarde het. Die stuk eindig waar hy vir Hitchcock met kleefband aanmekaarplak en sy instem om die swaard in hul woonvertrek uit te stal.

Hierdie romantiese komedie het dus raakpunte met die akteursduo se flieks, Pad na jou Hart (2014) en Vir Altyd (2016). Só trek die produksie nie net aanhangers van hierdie films nie, maar ook die sepie, 7de Laan, waarin Botha en Roberts albei gespeel het. Op ’n manier heel soortgelyk aan mense wat aanhangers van ’n bepaalde film is – sê nou maar Disney se The Lion King (1994) – en dan die musiekblyspelweergawe gaan kyk om deel van die ervaring te wees in lewende lywe, wil hierdie aanhangers hul gunstelingakteurs, en die tipe narratief wat hulle met die akteurs assosieer, in lewende lywe op die verhoog sien afspeel.

Ook die titel, “Beurtkrag,” is aanloklik vir Afrikaanse gehore. Dit verwys na ’n aktuele kwessie wat almal in Suid-Afrika raak en waaroor mense nie slegs kollektief verontrief en kwaad is nie, maar ook – soos Santam se “One-of-a-kind” advertensie (https://www.youtube.com/watch?v=ViorVDgiiOg) beweer – op ’n manier deel geword het van ons Suid-Afrikaanse identiteit. Mense voel dus ook asof die produksie dinge gaan aanspreek wat relevant is tot hulle lewens.

Hierdie strategieë is slim en dit het gewerk: die saal was vol en dit het gelyk asof die gehoor die stuk geniet.

Verder was die dekor ook baie slim: aangesien die karakters pas in ’n nuwe woonstel ingetrek het, is die verhoog gevul met kartondose. Dit is ’n sinvolle en goedkoop manier om ’n verhoog vol te maak en te transformeer, veral ’n skoolsaal se groot, leë, atmosfeerlose verhoog. Hulle het ook ’n kamera op die verhoog gehad waarmee die karakters hul eerste dag in hul nuwe woonstel dokumenteer en hierdie beeldmateriaal is agter op ’n muur van kartondose geprojekteer. Dit beklemtoon nie slegs die konflik wat sosiale media en die dokumentasie van hul lewens in hul verhouding veroorsaak nie, maar stel die regisseur ook in staat om op sleuteloomblikke ’n vergrote beeld van die karakters se gesigte aan die gehoor te wys.

Ongelukkig kom ’n produksie soos hierdie, wat op die aanhangers van sepies en romantiese komedies staatmaak, dikwels teen ’n prys en “Beurtkrag” is nie ’n uitsondering nie. Die verhaallyn is geyk en voorspelbaar. Dit steun swaar op genderstereotipes: sy is ’n onbuigbare beheervraat wat haar smaak op hom afdwing en hy is kinderagtig. Die rekwisiet wat vir hóm saakmaak (die speelgoedswaard) dra assosiasies van sy lewe as vrygesel en sy mansvriende, terwyl die rekwisiet wat vir háár saakmaak (Hitchcock) hulle verhouding simboliseer. Vroue mag dalk huishoudelike tiranne wees, maar hulle stel hul verhouding en ander mense altyd eerste, terwyl mans inskiklik en gemaklik, maar ook selfsugtig is en hul vriende eerder as hul lewensmaat prioritiseer. Moet ook nie vergeet dat mans noodwendig vroue verneuk, en vroue mans noodwendig probeer verander nie. En natuurlik vat dit slegs ’n dramatiese liefdesverklaring van die man om enige probleme in ’n verhouding onmiddelik op te los. Ek het begin wonder hoeveel mense werklik in sulke verhoudings is waar genderstereotipes al hulle gedrag en argumente dikteer?! En maak dit hulle nie waansinnig nie?!

Die produksie is dus geyk en essensialisties, maar die spel is oortuigend en die stel werk. Die stuk bereik sy doel. Dit is dalk net te sentimenteel vir my koue, siniese hart van klip.

AARDKLOP 2016: “Amper, Vrystaat.”

Deur: Antoinette Louw, Milan Murray, Cintaine Schutte, Nico Scheepers
Met: Antoinette Louw, Milan Murray, Cintaine Schutte
Regie: Nico Scheepers
Vervaardiger: Antoinette Louw
8 Oktober 2016, 16:30
kykNET Gimmies

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Een van die nadele van kunstefeeste, en veral die toneelbedryf in Suid-Afrika waar meeste teaterbywoning by kunstefeeste gebeur, is dat mens soms forseer word om drie toneelstukke op een dag te sien. Ek probeer dit gewoonlik beperk tot twee, maar dit is nie altyd moontlik nie en op die ou end moet ek kies om óf drie stukke op een dag te sien, óf een van die stukke glad nie te sien nie. Teen vieruur was ek nog glad nie gereed om weer teater toe te gaan na die oggend se vertoning van “Pa” nie. En dan moet ek die volgende toneelstuk boonop in Potchefstroom Gimnasium se saal gaan kyk: behalwe dat die plek vir my slegte hoërskoolherinneringe oproep, is dit ook nie geskik vir toneel nie.

Wanneer ek so voos by ’n teater instap kry ek die akteurs altyd vreeslik jammer. In 2010 moes ek van ’n vertoning van “Die Kortstondige Raklewe van Anastasia W” in die Totiussaal hardloop tot by “Spyt” by Laerskool Mooirivier. Ek was baie angstig dat ek laat sou wees vir die tweede vertoning en na die kragtige eerste vertoning het ek glad nie kans gesien om onmiddelik iets anders te kyk nie. Eers toe dit begin het ek besef dat Nicole Holm in albei produksies spéél. In hierdie geval het Milan Murray in beide “Pa” en “Amper, Vrystaat” gespeel. Hoewel daar heelwat tyd was tussen die twee produksies, verwonder ek my steeds aan haar energie.

My moed het verder in my skoene gesak toe ek sien dat die stuk meestal steun op direkte aanspreek van die gehoor. Dit is iets wat ek te veel op Afrikaanse verhoë sien. Wat drama by uitstek onderskei van poësie en prosa is dat dit ’n verhaal of gebeure aan die gehoor wys eerder as om dit aan hulle te vertel. ’n Meer gesofistikeerde teks laat die gehoor toe om hul eie afleidings oor die karakters te maak, eerder as dat karakters aan die gehoor vertel presies hoe hulle voel en waarom. Vir my voel dit of die monoloë wat karakters aan die gehoor rig eerder karaktersketse is wat die dramaturg skryf in voorbereiding tot die finale weergawe van die teks.

In “Amper, Vrystaat” was die direkte aanspreek van die gehoor egter geslaagd en die stuk het gesorg vir ’n baie aangename kykervaring. Drie uiteenlopende susters vertel om die beurt van hul kinderjare op die klein Vrystaatse dorpie, Amper, die disfunksionele gesin waaruit hulle kom en hoe hulle uitmekaar gedryf het. Bea (Antoinette Louw) het as tiener weggeloop van die huis af en het sedertdien ’n verhouding met ’n getroude man wat haar finansieel ondersteun, maar nooit sy vrou vir haar sal los nie. Sy probeer egter haar uiterste bes om elegant en kosmopolities voor te kom en haar 1950s Hollywood-geïnspireerde klerekas verklap nie dat sy in ’n vervalle woonstel in Wonderboom woon nie. Liz (Milan Murray) is die “no nonsense” ma van ’n groot kroos (by verskillende mans). Sy woon in ’n estate in Pretoria-Oos maar verdiep haar in die geheim in wetenskapsfiksie en fantasie. Annatjie (Cintaine Schutte) is ’n lesbiese hipster wat onlangs Kaap toe getrek het. Die stuk kom tot ’n klimaks wanneer die drie susters en hul ma saam Kersfees vier en Annatjie uit die kas uitkom.

Die drie aktrises het elkeen baie goed daarin geslaag om ’n geloofwaardige karakter te skep. Hulle het stereotipes net genoeg egtheid gegee sodat dit vir die gehoor voel of hulle elkeen van die karakters in die werklike lewe al raakgeloop het. Tragiese gebeure is uitgebeeld met net genoeg komiese verligting om die gehoor se simpatie te wen sonder om stroperig te raak – soos wanneer Bea met ’n luiperdpelsjas en donkerbril by hul ma se begrafnis opdaag.

Die treffendste deel van die stuk is die Kersete by Liz se huis. Die sluimerende konflik en onversoenbaarheid tussen die karakters is onmiddelik tasbaar. Die gehoor voel saam met die karakters ongemaklik en senuweeagtig. Die spanning bou geleidelik en loop dan uit op ’n lelike argument. Die ensemblespel was puik en dié toneel herinner aan Tracy Letts se Pulitzer Pryswenner, August: Osage County (2008). Juis daarom wens ek dat die gehoor meer van hierdie ensemblespel kon sien in plaas daarvan dat die gebeure verder deur die karakters aan die gehoor vertel word.

Hoewel die dekor esteties treffend was, was dit glad nie funksioneel nie en ek was verbaas om te lees dat dit ’n Fiësta-toekenning gewen het. Drie gloeilampe hang van die treklatte af tot agter elke aktrise wat elkeen bo-op ’n hopie spoelklippe staan. Van sekere hoeke af skyn die gloeilampe se lig reg in die gehoor se oë in, wat steurend is. Omdat Gimmies se verhoog hoër is as die siglyn van die gehoor, kon mens nie die spoelklippe sien nie, maar dit het geraas elke keer as ’n aktrise opstaan en hulle het soms gesukkel om hul staan te kry. Verder het dit wit merke agterop Antoinette Louw se swart rok gelaat. Die klippe stel sekerlik voor hoe elke karakter op haar eie simboliese eiland uitgespoel het, maar ek het gevoel dat die metafoor nie verder onderstreep hoef te word nie. Myns insiens sou drie stoeltjies met kolligte beter gewerk het.

Ten spyte hiervan is “Amper, Vrystaat” ’n aangename kykervaring met puik spel en ’n teks wat baie potensiaal toon.

AARDKLOP 2016: “Pa.”

Deur: Florian Zeller
Met: Chris van Niekerk, Milan Murray, Stian Bam, Roeline Daneel, Ira Blanckenberg, Gustav Gerdener
Regie: Hennie van Greunen
Ontwerp: Nico Scheepers, Theo Kleynhans
Musiek: Pedro Kruger
Vertaling: Elouise du Toit, Naomi Morgan
Vervaardiger: Pedro Kruger vir Wordsmith’s Theatre Factory
8 Oktober 2016, 10:00
Weet en Sweet

Wanneer ’n toneelstuk my emosioneel intrek, is dit vir my baie moeilik om dit objektief te beoordeel. Hoewel ek uiteraard myself toelaat om meegevoer te word deur ’n toneelstuk, maak ek deurgaans notas in my gedagtes en distansieer myself van tyd tot tyd emosioneel om te bepaal of die stuk slaag in dit wat hy aanpak. In ’n toneelstuk soos “Pa” was ek op ’n stadium só emosioneel geraak dat ek opgehou het om te probeer om krities te kyk en later net gesit en huil het.

En tog is dit op sigself sekerlik ’n goeie teken. As ’n toneelstuk die gehoor diep raak, het die akteurs en produksiespan iets reg gedoen. Alzheimer se siekte, demensie en veroudering is onderwerpe wat by meeste gehoorlede ’n emosionele snaar sal raak. Wanneer dit nie reg aangepak word nie, kan die stuk ontaard in ’n didaktiese bewusmakingsveldtog. “Pa” slaag egter daarin om die gehoor intens bewus te maak van die ervaring van iemand wat aan demensie ly sonder om ooit prekerig of sentimenteel te raak.

Die verhoogruimte en rolbesetting word op ’n baie funksionele manier gebruik om die gehoor in te trek in André (Chris van Niekerk), ’n 65-jarige wat aan Alzheimer se siekte ly, se ervaring. Met elke dekorwisseling verander die stel: boekrakke word vervang deur panele en sommige meubelstukke verdwyn of word vervang met ander. André se dogter, Anna (Milan Murray/Ira Blanckenberg), haar man (Gustav Gerdener/Stian Bam) en die verpleegster (Roeline Daneel/Ira Blanckenberg) tree op asof niks skort nie maar André en die gehoor word al meer verward. Die rolle word verdubbel wat maak dat Anna eweskielik heeltemal vreemd lyk wanneer sy van die dorp af kom, en haar man lyk ook van tyd tot tyd na ’n vreemdeling.

Aanvanklik kan die gehoor nog sin maak van die situasie en onderskei tussen dít wat werklik gebeur (binne die fiktiewe konteks, natuurlik) en dít wat André hallusineer of verwar met vorige gebeure. Later raak dit al hoe moeiliker.

Die spel was deurgaans uitstekend en myns insiens sou Chris van Niekerk ’n voor die hand liggende keuse gewees het vir die toekenning vir beste akteur. Daar is een bepaalde toneel wat vir my uitstaan. Anna se man, Pierre, word meestal deur Stian Bam vertolk. Bam troon fisiek bo die ander karakters uit wat hom intimiderend maak. By tye word Pierre deur Gustav Gerdener, wat heelwat korter is, vertolk. Die karakter behou egter die intimiderende liggaamlikheid wat Bam reeds daaraan gegee het. In hierdie bepaalde toneel is die spanning wat André se toestand vir die mense rondom hom veroorsaak reeds duidelik. Gerdener, as Pierre, konfronteer vir André en vra hom uit frustrasie hoe lank hy nog hulle lewens gaan “opfok.” Pierre klap vir André dan liggies deur die gesig, maar hy doen dit herhaaldelik. André se vernedering en weerloosheid was tasbaar. Ek het ook gewonder of Pierre nie dan juis Bam se fisieke gestalte in André se verbeelding aanneem as gevolg van hierdie vernedering nie. ’n Mens is teen hierdie tyd glad nie meer seker of Pierre vir André werklik so verneder en of dit bloot ’n hallusinasie is nie. Watookal die geval, André is absoluut uitgelewer en sy situasie is tragies.

Vanweë verskeie misverstande is daar ook komiese verligting in die teks. Die gevolg is ’n toneelstuk wat baie ernstige en swaar temas aanpak sonder om stroperig, melodramaties of voorskriftelik te raak. Dit is geen geringe prestasie nie.

AARDKLOP 2016: “So ry Miss Daisy.”

Deur: Alfred Uhry
Met: Sandra Prinsloo, John Kani, Jacques Bessinger
Regie: Christiaan Olwagen
Stelontwerp: Rocco Pool
Beligtingsontwerp: Wolfie Britz
AV-ontwerp: Jaco Bouwer
Kostuums: Birrie le Roux
Vertaling: Saartjie Botha
Vervaardiger: Saartjie Botha
Produksiebestuurder: Cintaine Schutte
7 Oktober 2016, 20:00
KykNet Gimmies

Hierdie produksie was met goeie rede ’n lokettreffer. Dit voel amper oorbodig om te sê die spel was uitstekend, siende dat twee veteraanakteurs die rolle van Hoke (John Kani) en Miss Daisy (Sandra Prinsloo) vertolk het. Die dekor was funksioneel en esteties treffend en die teks is baie goed aangepas by die Suid-Afrikaanse konteks. En tog voel ek dat my hele teaterervaring ontsettend voorspelbaar was, want teen dié tyd daag die teks nie werklik meer die gehoor uit nie (behalwe seker vir gehoorlede wat báie ver regs is). Waar Sandra Prinsloo uitgekryt is as ’n “hoer” deur die Afrikaanse pers toe sy in die tagtigerjare teenoor die einste John Kani in Miss Julie gespeel het, is beide van hulle vandag lieflingakteurs. Dus sál hierdie stuk goed verkoop. En daar is niks op sigself fout daarmee nie – inteendeel – die teaterindustrie, en kunstefeeste, het sulke stukke broodnodig.

“So ry Miss Daisy” se verhaallyn is bekend aan meeste teatergangers danksy die 1989 filmweergawe van die teks. Miss Daisy se seun voel dat sy ma nie meer moet karbestuur nie. Hy neem vir Hoke, ’n professionele chauffeur, in diens. Miss Daisy wil eers niks weet van die vreemdeling wat haar nou moet rondry nie, maar die twee raak mettertyd hegte vriende, ten spyte van die ras- en klaslyne wat hulle aanvanklik skei.

Die regisseur het innoverende maniere gebruik om die tonele wat in Miss Daisy se kar afspeel voor te stel. Hoke en Miss Daisy sit op stoele wat in ander tonele die interieur van haar huis voorstel. Die stoele is geskuif om hul posisies in die kar aan te dui. Hoke mimiek die stuurwiel en rathefboom. Straattonele word dan op ’n agterste skerm geprojekteer om die illusie te skep dat die karakters in ’n dorp rondry. Die kostuums was ook baie funksioneel. Hoke het deurgaans ’n driestuk pak klere aan, met ’n keps wanneer hy bestuur. Miss Daisy dra ’n beige Chanel pakkie met swart sykouse. Beide hierdie kostuums dien as ’n tipe uniform vir die karakters – Hoke is werklik in uniform, en daardie bepaalde Chanel pakkie spreek boekdele oor Miss Daisy se sosio-ekonomiese status en is neutraal genoeg om kostuumwisselings uit te skakel. Klein veranderings is aangebring soos die konteks vereis – so dra Miss Daisy byvoorbeeld verskillende hoede vir verskillende geleenthede.

En tog wens ek dat die stuk meer genuanseerd met die komplekse temas van klas, ras en weerloosheid omgegaan het. Die twee hoofkarakters steun albei sterk op stereotipes en die mooi vriendskap wat tussen hierdie twee onwaarskynlike mense ontwikkel slaag baie goed daarin om enige middelklas-skuldgevoelens oor kolonialisme te sus. Ek besef dat daar waarskynlik werklik mense bestaan het (en steeds bestaan) wie se konserwatiewe of rassistiese politieke oortuigings verander het as gevolg van ’n hegte vriendskap wat, onder watter problematiese omstandighede ookal, vir ’n Damaskus-ervaring gesorg het. En hulle stories moet vertel word. Maar ek wonder steeds of Suid-Afrikaanse gehore nie gereed is vir iets meer uitdagends nie.

AARDKLOP 2016: “’n COCK en BULLshit storie.”

Deur: Richard Zajdlic, Richard Crowe
Met: Edwin van der Walt, Dean-John Smith
Regie: Marthinus Basson
Stel-, en kostuumontwerp: Marthinus Basson
Vertaal en verwerk deur: Quentin Krog, Geon Nel, Marthinus Basson
Vervaardiger: RAMINIDAM, Chris Pienaar
7 Oktober 2016, 15:00
Boys High

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Hierdie teks is só kompleks en bied sóveel uitdagings aan twee jong akteurs, dat dit nie ’n wonder is dat Marthinus Basson dit weer op die planke bring nie, nadat dit tien jaar gelede met Quentin Krog en Neels van Jaarsveld by hierdie selfde kunstefees opgevoer is. Die teks speel af in die kleedkamer van ’n bokskryt. Hoewel die gehoor nie ’n boksgeveg self sien nie, sien ons die konfrontasie tussen TJ (Dean-John Smith), ’n semi-professionele bokser en sy beste vriend, Jaco (Edwin van der Walt) voor en na ’n belangrike geveg. In die proses word ingewikkelde vraagstukke rondom manlikheid en homososiale interaksie ondersoek. Homososiale interaksie verwys na die spektrum van verhoudings wat tussen twee mense van dieselfde geslag kan bestaan – van ’n homoseksuele verhouding tot ’n platoniese vriendskap. Hierdie term beklemtoon ook dat hierdie tipe interaksie nie noodwendig slegs die een of die ander is nie, maar stel voor dat seksualiteit vloeibaar is.

Dit is dan juis Jaco se homofobie en sy vermoede dat TJ gay is wat hierdie tema sterk uitlig. Binne ’n streng heteronormatiewe samelewing is die hegte vriendskap tussen TJ en Jaco slegs moontlik onder bepaalde voorwaardes. Hierdie voorwaardes sluit in dat albei mans baie beslis heteroseksueel is en dat hulle hul heteroseksualiteit en manlikheid herhaaldelik aan mekaar bewys. (Binne hierdie tipe opset is manlikheid natuurlik sinoniem met heteroseksualiteit.) Dit lei verder tot ’n situasie wat vir my geweldig teenstrydig is. Enige intimiteit en privaatheid buite die vriendskap word sterk ontmoedig – so word seksuele oorwinnings (seks is nooit meer as ’n verowering nie) tot in die fynste besonderheid gedeel en enige huiwering in hierdie verband is ’n groot taboe. Terselftertyd word daar dus aangedring op intimiteit binne die vriendskap in hierdie “bros before hoes” scenario. Dit is asof daar ’n behoefte aan seksuele intimiteit is tussen die twee vriende, en dat dit uitgeleef word in hierdie sogenaamde tentoonstellings van heteroseksuele manlikheid. Jaco ontsien dan ook geen grens van privaatheid in sy soeke om te bepaal of TJ gay is of nie.

Dus bied die teks fantastiese emosionele en fisiese uitdagings aan ’n akteur: om te oortuig as ’n semi-professionele bokser moet die akteur net so fiks en sterk wees as wat ’n bokser in daardie situasie sal wees. Hierdie twee akteurs het hulle uitstekend van die taak gekwyt. Dean-John Smith het obsoluut oortuig as ’n bokser en sy weerloosheid, terwyl Jaco niks ontsien om TJ se mees private en persoonlike geheime bloot te lê nie, was tasbaar. Ek was baie verbaas om te sien hoe grillerig Edwin van der Walt kan lyk. Hoewel hy al vantevore goeie vertolkings gelewer het in – onder andere “macbeth.slapeloos” (2014) – het hy hier met stywe, geskeurde klere en lang, teruggejelde hare, baie beslis weggebreek van skoongesig, Jacques Rynhardt-tipe rolle.

Die verhoogruimte is uitstekend gebruik. Die gehoor kry duidelik die gevoel dat hulle ’n testosteroongelade ruimte betree. Die feit dat die hele toneel binne hierdie ruimte afspeel, skep ook die idee dat die karakters vasgekeer word deur die samelewing, mekaar, en ook ander kragte van buite (soos die polisie wat op Jaco se spoor is na ’n straatgeveg). Wanneer die verhoog verdonker, soos byvoorbeeld wanneer TJ se boksgeveg aan die gang is, word die speelruimte slegs belig met ’n groen lig wat van die kant af inskyn. Dit sorg vir ’n onheilspellende atmosfeer. Tydens sekere konfrontasies tussen TJ en Jaco, speel Jaco met ’n stel veerpyltjies wat hy herhaaldelik in die vloer ingooi. Hy mik by tye baie naby aan TJ se voete, en dit verhoog die spanning van die hele produksie merkbaar. Hierdie produksie slaag baie goed daarin om die gehoor te laat met ’n gevoel van ongemak, nie slegs deur die swaar temas wat in die teks aangeraak word nie, maar ook deur elke aspek van die produksie.

AARDKLOP 2016: “Die Vrou uit die See.”

Deur: Henrik Ibsen
Met: Jana Strydom, Neels van Jaarsveld, Erik Holm, Kaz McFadden, Amalia Uys, Theodore Jantjies, Natasha Dryden, Gavin van den Berg
Regie: Henry Mylne
Stel-, kostuum- en beligtingsontwerp: Wilhelm Disbergen
Klankontwerp: Henry Mylne
Vervaardiger: Innibos Kunstefees
7 Oktober 2016, 9:00
Sanlam Ouditorium

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Elke keer wat ek ’n teks van Ibsen sien of lees is ek van voor af verbyster oor hóé relevant die temas in sy werk vandag nog is, hoewel dit meer as 100 jaar gelede geskryf is. Dit is geen wonder dat Ibsen se dramas kontroversie veroorsaak het toe dit aanvanklik opgevoer is nie. Ibsen se tekste ontmasker dikwels patriargie en fokus op die gebondheid van die vrou, haar gebrek aan agentskap, in ’n patriargale samelewing.

“Die vrou uit die see” handel dan ook oor die verhouding tussen dr. Wangel (Neels van Jaarsveld) en sy tweede vrou, Ellida (Jana Strydom). Hoewel dié twee skynbaar aanvanklik geheg was aan mekaar, is hulle besig om verder van mekaar af weg te dryf wanneer die drama begin. Sy word nie alleen vervreem van Wangel nie, maar ook van sy twee volwasse dogters (Amalia Uys en Natasha Dryden). Ellida se hunkering na die see simboliseer dan ook ’n hunkering na ’n eertydse minnaar aan wie sy steeds gebonde voel. Aanvanklik probeer Wangel haar forseer om afstand van die man te doen, maar hoe meer hy Ellida haar agentskap ontneem, hoe meer voel sy aangetrek tot die minnaar uit haar verlede. Dit is eers wanneer Wangel vir Ellida toelaat om self te kies of sy hom gaan verlaat of nie, dat sy ophou hunker na die see en die man uit haar verlede.

14632512_10155400490372178_861355889_o

Ellida (Jana Strydom) word gekonfronteer met die vreemdeling (Theodore Jantjies) uit haar verlede. Foto: Wilhelm Disbergen.

Hierdie Afrikaanse opvoering van die teks is werklik indrukwekkend en vir my ’n Aardklop-hoogtepunt. Die vertaling is vloeiend – dit is jammer dat die feesgids nie noem wie die vertaler is nie. Die rolbesetting is baie goed gekies – dit is moeilik om akteurs uit te sonder, aangesien elkeen ’n uitstekende emosionele sowel as tegniese vertolking gelewer het. Jana Strydom se sterk gelaatstrekke en donker stem het ’n gesaghebbendheid aan die komplekse karakter van Ellida gegee. Ek sou graag wou sien dat sy amptelike erkenning kry vir haar vertolking van hierdie rol. Tydens die klimaks van die stuk, wanneer Wangel sy liefde aan Ellida verklaar maar haar terselftertyd haar vryheid gee, het Neels van Jaarsveld met ’n beteuterde postuur op die grond gesit. Dit het ’n weerloosheid aan sy karakter gegee wat die impak van Ellida se besluit om by hom te bly soveel groter gemaak het. Erik Holm het die rol van Arnholm knap vertolk en sy rolstoel is moeiteloos in die teks geïnkorporeer. Kaz McFadden se komiese tydsberekening was absoluut in die kol met sy vertolking van die onbeholpe Lyngstrand.

14572484_10155400490422178_341945584_o

Dr Wangel (Neels van Jaarsveld) en sy dogter, Bolette (Amalia Uys) ontvang hul besoeker, dr Arnholm (Erik Holm). Foto: Wilhelm Disbergen.

Die stel- en kostuumontwerp het gesorg vir estetiese trefkrag wat die simboliek van die teks gekomplimenteer het. Wilhelm Disbergen se stel is ’n kunswerk. Nadat ek met hierdie produksie bederf is, het baie van die ander Aardklopproduksies se (heel verdienstelike) stelle vir my soos skoolkonsertdekor gelyk. Drie soliede panele omraam die speelvlak gedeeltelik – daar is ’n deur in een van die panele wat, onder andere, die ingang na die Wangel-woning voorstel. Die middelste paneel kan vorentoe en agtertoe beweeg om ’n opening te vorm waardeur die akteurs kan beweeg. Hierdie panele is in ’n neutrale kleur en word dan ook gebruik om projeksies te vertoon wat die verskillende ruimtes voorstel waarin die karakters hulle bevind. Die verhoog word verder deur enkele dekorstukke, soos rotse en stompe, of ’n rystoel en kleiner tafeltjies, ingeklee. Dit is minimalisties en funksioneel.

14585493_10155400490687178_1476886125_n

Ellida (Jana Strydom) en die vreemdeling (Theodore Jantjies). Foto: Wilhelm Disbergen.

Al die akteurs, behalwe vir Jana Strydom, dra goties-geïnspireerde kostuums in donker, neutrale kleure. Ellida se kostuums is lang, vloeiende rokke in kleure wat herinner aan die see. Dit het die tema van sosiale beklemmendheid onderstreep en ook baie duidelik die idee tuisgebring dat Ellida ’n buitestaander is en nie heeltemal tuis is in die Wangel-gesin, of die gemeenskap nie.

14585679_10155400490942178_1500130701_o

Lyngstrand (Kaz McFadden), Bolette (Amalia Uys), Hilde (Natasha Dryden) en Arnholm (Erik Holm) verwyl tyd in die berge. Foto: Wilhem Disbergen.

Die ontknoping bind die teks baie netjies saam – in die heel laaste toneel staan die karakters in ’n formasie en kyk hoe die laaste skip van die seisoen verbyvaar. Hierdie einde was effens soetsappig na my postmoderne smaak, maar dit is te verwagte van ’n teks wat in 1888 geskryf is.

Oor die algemeen is hierdie ’n puik, afgeronde produksie. Dit sorg vir ’n baie bevredigende kykervaring: toneel op sy beste.

AARDKLOP 2015: “Siener in die Suburbs.”

Deur: P.G. du Plessis
Met: Shaleen Surtie-Richards, Christo Davids, Brendon Daniels, Ivan Abrahams, Crystal-Donna Roberts, Dann-Jacques Mouton en Andrea Frankson
Regie deur: Heinrich Reisenhofer
9 Oktober: 9:00
Ouditorium

Siener in die Suburbs is die eerste maal in 1971 deur die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) opgevoer. In pas met die kitchen sink dramas wat sedert die 1950s op veral Britse verhoë gesien is (Law, 2011: 276), skets Siener in die Suburbs ’n toneel van armoede en desperaatheid. Soos die kitchen sink dramas het Siener in die Suburbs ook aanvanklik sommige middelklasgehore geskok en afgesit. Volgens die Clover Aardklop Feesgids (2015:24) kon hierdie gehore hulle nie indink dat daar werklik mense soos dié in Siener in die Suburbs bestaan nie.

Sedertdien het hierdie teks volksbesit geword. Dit het onder andere in 2002 ’n herlewing beleef met Sandra Prinsloo in die rol van Ma terwyl sy in die aanvanklike opvoering die rol van Tiemie vertolk het. Daar is verskeie redes waarom die stuk gewild bly. Vir my staan die uitstekend beheerde tempo uit; die manier waarop spanning stadig maar seker bou. Die klimaks is onvermydelik maar steeds skokkend. Die balans tussen die komiese en die tragiese is fyn en gepas. Die karakters is volrond: op die verhoog word hulle ménse. Hulle is nie bloot personasies of spreekbuise vir die dramaturg nie. Die stuk is lank genoeg vir die gehoor om betrokke te raak by hul doen en late. Soos die gemeenskappe wat die inspirasie was vir Siener in die Suburbs, bestaan hierdie mense.

Daarom is Heinrich Reisenhofer se verplasing van die drama na die hedendaagse Kaapse Vlakte moeiteloos. Klein veranderings is aangebring. In plaas daarvan dat Fé en Albertus na Tiemie se nuwe plaat moet gaan luister, moet hulle na haar nuwe CD luister en die 1948-Buick is vervang met ’n Volkswagen Citi Golf. Behalwe vir opgedateerde kostuums en rekwisiete was die opvoering baie getrou aan die teks (ek het veral die “spreuk” wat lyk asof dit by Mr Price Home gekoop is geniet).

Die aspek wat my egter die meeste beïndruk het was die uitmuntende spel. Hierdie produksie wys wat die kombinasie van fantastiese akteurs en ’n uitstekende teks kan bied. Elke akteur het reg laat geskied aan sy of haar volronde karakter. Christo Davids verstaan Tjokkie se siniese onbetrokkenheid. Crystal-Donna Roberts weet dat Tiemie nie eintlik in die Suburbs hoort nie en bestem is vir beter dinge. Shaleen Surtie-Richards wórd Ma in haar wysheid en empatie maar ook in haar swakheid. Ivan Abrahams se onopregte glimlag soos hy, as die opportunistiese Giel, vir Tjokkie teister bly my steeds by. My enigste punt van kritiek is dat Brendon Daniels nie altyd goed genoeg geartikuleer het nie, hoewel hy absoluut oortuig het as die boelie, Jakes.

Verplasings van gekanoniseerde dramas is tot ’n sekere mate ’n dobbelspel. Dit kan óf ’n dawerende sukses wees, of ’n vreeslike flop. Heinrich Reisenhofer se Siener in die Suburbs is ’n dawerende sukses.

Bronnelys:

Aardklop. 2015. Clover Aardklop Feesgids. [Potchefstroom].

Law, Jonathan., ed. 2011. The Methuen drama dictionary of the theatre. London: Methuen.

AARDKLOP 2015: “Sandton City Grootdoop.”

Deur: Wessel Pretorius
Met: Hannah Borthwick, Roeline Daneel, Joanie Combrink
Regie deur: Wolf Britz
8 Oktober: 20:00
Boys’ High

“My humor is gewaagd, dit val nie in almal se smaak nie.”

Problematiese ma-dogter verhoudings is die spil waarom menige toneelstukke draai en dit is maklik om te sien waarom. In onder meer Tracy Letts se August: Osage County (2007), Pearl Cleage se Hospice (1987) en Marsha Norman se ’Night, Mother (1983) dryf ’n konfrontasie tussen ’n ma en dogter tot ’n groot mate die handeling. Diepliggende kwessies, ontwikkel deur oorerwing of kondisionering, word oor dekades toegelaat om te broei en te gis en word eindelik opgehaal en gekonfronteer.

Wessel Pretorius se Sandton City Grootdoop volg ook hierdie patroon en slaag tot ’n groot mate daarin. In hierdie drama is die ma ’n teatrale verhoogaktrise, Kara, gespeel deur Joanie Combrink. Combrink se uitmuntende uitbeelding van hierdie pretensieuse, selfgesentreerde aktrize sorg alreeds vir heelwat vermaak. In ’n dramatiese swart rok, hemelhoë spykerhakke en tulband, artikuleer en projekteer sy in haar alledaagse lewe asof sy op ’n verhoog is. Haar keurige Afrikaans skep die indruk dat alles wat sy sê reguit uit ’n Eitemal-vertaling kom, hoewel sy eerder sal sterf as om te erken dat sy oudmodies is. Wanneer haar dogters nie lag vir haar grappe nie, kap sy as volg terug: “my humor is gewaagd, dit val nie in almal se smaak nie.”

Dit word gou duidelik dat hoewel Kara en haar jongste dogter, Lisa (Hannah Borthwick), op die oog af heelwat verskil, dit eerder hul ooreenkomste is wat hul laat bots – baie soos Letts se karakters Violet en Barbara in August: Osage County. Darenteen is die onseker en koddige Danél (Roeline Daneel) vasgevang in die konflik tussen haar jonger suster en ma. Tog bereik sy ook háár breekpunt en dwing haar ma en suster om haar ook in ag te neem.

Daar is dus genoeg stof om hierdie drama interessant te maak. Die ensemble het mekaar goed aangevul en hul komiese tydsberekening was in die kol. Tog het ek (soos soveel maal tevore) gevoel dat die karakters (veral Lisa) die gehoor te veel direk aanspreek en vir hulle dít vertel wat eerder uitgebeeld kan word. Dit veroorsaak dat die drama korter en meer oppervlakkig is as wat dit kon wees, gegewe die komplekse temas.

Desnieteenstaande sorg Sandton City Grootdoop vir ’n aangename teaterervaring en is Joanie Combrink se spel alleen genoeg rede om dit te gaan kyk.

AARDKLOP 2015: “Hemelruim.”

Deur: Nick Payne, vertaal deur Nico Scheepers
Met: Tinarie van Wyk Loots en Paul du Toit
Regie deur: Nico Scheepers
8 Oktober: 9:00
Gimmies

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Volgens Humberto Maturana (in De Kock, 2008:88) bestaan ons nie binne ’n enkele heelal (of universe) nie, maar binne ’n veelvuldige een (’n multiverse). Maturana verwys só daarna aangesien hierdie veelvuldige heelal voortdurend herskep word binne elke individu se bewussyn. Met ander woorde, die heelal soos ek dit waarneem is nie dieselfde as die heelal soos jy dit waarneem nie, hoewel albei weergawes geldig is. Elke gebeurtenis het dus ’n magdom alternatiewe weergawes, afhangende van hoeveel mense dit ervaar het. Daarmee saam kompliseer die keuses wat ons uitoefen ook hierdie situasie aangesien elke keuse wat nié uitgeoefen word nie steeds alternatiewe weergawes bied tot die narratief van ’n individu se lewe soos hy of sy dit ervaar.

Daarom wys Heelal nie vir ons die enkelvoudige narratief van hoe Mariaan (Tinarie van Wyk Loots) en Roelof (Paul du Toit) ontmoet by ’n braai, ’n verhouding aanknoop, later uitmaak omdat een van hulle ontrou was en dan weer bymekaar uitkom voordat Mariaan voortydig weens ’n breingewas sterf nie. Die drama wys vir ons grepe van die verskillende moontlike uitkomste van hierdie gegewe. Tog word die breë verhaallyn nie verwater deur hierdie “wat as” speletjie nie. Soos Charles Spencer (2012) tereg uitwys, ondersoek die drama die implikasies van vrye wil en toeval en die vermenigvuldiging van gebeure op die verhoog word later oorweldigend en angswekkend. Die akteurs slaag daarin om deur middel van ’n gefragmenteerde teks samehangende karakters te skep waarby die gehoor emosioneel aanklank vind.

Elke aspek van die produksie was weldeurdag en is ingespan om ’n afgeronde eindproduk te skep. Die teks is uitstekend en die vertaling en verplasing na Kaapstad was moeiteloos. Marianne is ’n dosent in kosmologie aan die Universiteit van Kaapstad en sy vertel dus vir Roelof (en die gehoor) van die idee van ’n multiverse. Op die verhoog hang ’n groepering geel gloeilampe wat aan die hemelruim herinner. Verskillende kombinasies van hierdie gloeilampe verhelder by tye soos die karakters ’n ander weergawe van die plotgegewe uitbeeld. Die atmosferiese klankontwerp het ook bygedra om spanning te bou. Die kostuums is met klein veranderinge deur middel van onder andere serpe en haarbande gevarieer.

Ongelukkig was die gehoor deurentyd onrustig. ’n Hele paar selfoonliggies het gedurig aangegaan. Ek dink ook nie hierdie bepaalde skoolsaal was die regte venue vir Hemelruim nie – ek sou die stuk graag in ’n klein, intieme teater wou sien. Ten spyte hiervan, is Hemelruim my Aardklop-hoogtepunt van 2015. Die akteurs en produksiespan verdien ’n pluimpie vir hierdie verfrissende opvoering.

Bronnelys:

De Kock, Leon. 2008. “Making the body public.” English Academy Review, 25(2):88-100.

Spencer, Charles. 2012. “Constellations, at the Royal Court, review: Constellations by Nick Payne. The Telegraph: 20 January. Online: http://www.telegraph.co.uk/culture/theatre/theatre-reviews/9027655/Constellations-at-the-Royal-Court-review.html (Accessed: 22 October 2015.)

AARDKLOP 2015: “Kinders van Stilte.”

Deur: Mark Medoff, verwerk deur Antoinette Louw
Met: Zane Meas, Antoinette Louw, Vicki Fourie, Jason Farao
Regie deur: Heleni Handt
7 Oktober: 20:00
Girls’ High

Hierdie teks deur Mark Medoff het ’n baie spesifieke doel: om bewustheid rondom doofheid en die marginalisering van dowes te skep. Die handeling sentreer om Jeremy (Zane Meas), ’n spraakonderwyser by ’n skool vir dowes en Sandra (Vicki Fourie), ’n volwasse leerling wat weier om te leer praat en slegs deur gebaretaal kommunikeer. Sy het onttrek van die horende wêreld en sonder haarself af in die skool waar sy as skoonmaker werk. Ten spyte daarvan dat dit moeilik is vir Sandra en Jeremy om te kommunikeer, raak hulle verlief en trou. Omdat Jeremy Sandra se onderwyser was (hoewel sy reeds ’n volwassene was toe hulle ontmoet het) en hy kan hoor terwyl sy doof is, is daar ’n ongebalanseerde magsverhouding tussen hierdie twee karakters. Sandra weier egter om dit so te aanvaar en dring daarop aan dat Jeremy en die ander karakters haar situasie vanuit haar oogpunt sien, in plaas daarvan om namens haar besluite te neem.

Die stuk is opgevoer met minimale dekor wat verskeie funksies vervul. Skaduspel is ook op ’n slim manier ingespan om afstand tussen die gehoor en karakters te skep in sekere intense tonele. Verskeie randkarakters is deur Antoinette Louw vertolk – onder andere Sandra se ma wat aan alkoholisme ly en ’n prokureur wat regshulp verleen aan Sandra en ’n vriend van haar (vertolk deur Jason Farao). Louw se wisseling tussen hierdie karakters was moeiteloos. Ook Meas, Fourie en Farao se spel was oortuigend.

Fourie het veral beïndruk in die toneel waar sy Sandra se vrees om haar stem te laat hoor uitbeeld. Deur die hele drama is Sandra doodstil hoewel Jeremy aanhou om haar aan te por om haarself met haar stem uit te druk. Wanneer sy eindelik ’n geluid maak, is haar hoë kreet roerend.

Kinders van Stilte slaag daarin om ’n horende gehoor ’n blik te gee in die lewe van dowes. Hoewel ’n gedeelte van die kaartjieverkope aan die Nasionale Instituut vir Dowes geskenk word, is hierdie toneelstuk meer as slegs ’n traktaatjie. Dit beklemtoon die komplekse maniere waarop mense kommunikeer en wat horendes dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Beide Fourie en Farao is doof of hardhorend en hierdeur dra die stuk self by om weerstand te bied teen die marginalisering van dowes.