“Stil.”

Deur: Jannes Erasmus
Met: Zoricke Snyman, Jannes Erasmus, Diani Gernandt
Regie: Jannes Erasmus
Stel- en beligtingsontwerp: Wilhelm Disbergen
4 Maart 2017, 15:00
Staatsteater, Momentum.

Visueel treffend, maar navorsing ontbreek

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Ten spyte van ’n swakgeskrewe programnota en ’n voorskou op YouTube wat die produksie, ten beste, na ’n intertekstuele gesprek met Fifty Shades of Grey en Fifity Shades Darker en, ten slegste, na ’n skaamtelose nabootsing van dieselfde films laat lyk, is “Stil” visueel treffend en toon die produksie potensiaal.

Nina en Stef is twee vyf en twingtigjariges wat mekaar in ’n kroeg ontmoet. Sy vertel dat haar ouers nooit getroud was nie, en hy noem dat syne geskei is. Hy is ’n skrywer en sy ’n kleuterskoolonderwyser. Grepe uit hul daaropvolgende verhouding word gewys, nie noodwendig in chronologiese volgorde nie: hulle besluit om saam in te trek, hulle trou egter nie – en dit blyk ’n teer puntjie te wees, sy het ’n diep begeerte om ’n ma te wees en raak swanger, hy is nie genoeë met die swangerskap nie. Daar is ’n paar tonele waarin hulle hewige argumente het; hy stap by die huis uit en sê vir haar dat sy op haar eie is. Hierdie tonele word afgewissel deur tonele waar Nina ondervra word deur ’n speurder. Een tafel en stoele verteenwoordig om die beurt die kroeg, Stef en Nina se huis, asook die ondervragingslokaal. Deur middel van projeksies teen die agterste muur en ’n verandering in beligting word die verskillende ruimtes baie effektief voorgestel.

1

Foto: Wilhelm Disbergen

Die gehoor kan dus aflei dat die gebeure gelei het tot ’n ernstige, kriminele insident en moet dus, saam met die speurder, probeer uitvind wat werklik gebeur het. Die idee dat die gehoor getuies word tot die gebeure en, soos ’n jurie, ’n uitspraak moet lewer oor wie skuldig is, word versterk deur die gehoor die geleentheid te gee om by ’n u-vormige ry tafels, wat die speelruimte omraam, te gaan sit, asof deel van ’n paneel wat die gebeure beoordeel. Leeslampe, wat aangeskakel word tydens die ondervragingstonele, en velle papier en penne voor elke sitplek verleen ’n verdere gevoel van outensiteit aan hierdie insluiting van die gehoor. Die verwagting word dus geskep dat hierdie drama ’n oop struktuur het. Volgens Keuris (1996) vereis dramas met ’n oop struktuur ’n eie interpretasie van die gehoor en word die gebeure in hierdie dramas nie so duidelik afgehandel soos in dramas met ’n geslote struktuur nie.

6

Foto: Wilhelm Disbergen

Aanvanklik lyk dit dan asof “Stil” juis die finale ontknoping van gebeure aan die gehoor sal oorlaat. Elke toneel in die produksie blyk ’n deel van ’n legkaart te wees, maar in plaas daarvan dat die gebeure al hoe duideliker word soos die legkaartstukke ’n prentjie vorm, moet die gehoor eerder al die gebeure wat hulle tot op daardie stadium gesien het, herinterpreteer soos elke nuwe legkaartstuk bykom. Hierdie tegniek word onderstreep deur die tonele af te wissel met monoloë wat aanvanklik uit lukrake sinsgrepe en frases bestaan maar soos die gebeure ontvou meer en meer betekenis kry. So weet die gehoor byvoorbeeld nie waarna die vraag “hoeveel keer?” aanvanklik verwys nie. Die ondervragingstonele suggereer eers dat Nina moontlik ’n kind ontvoer het, later dat Stef haar aangerand en verkrag het as hy te veel gedrink het, nog later dat Nina ’n drankprobleem het en aanhou drink het terwyl sy swanger was. “Hoeveel keer?” blyk dus te verwys na hoeveel keer Stef vir Nina aangerand het, hoeveel keer sy te veel gedrink het, hoeveel keer sy gedrink het terwyl sy swanger was, ensovoorts.

Nina se drankprobleem word beklemtoon deur ’n baie effektiewe visuele simbool. Onder die klein speelvlak waarop meeste van die handeling plaasvind staan honderde, identiese, blou botteltjies met ’n perserige vloeistof in. Dit lyk asof dit hier weggesteek word. Nog voordat die gehoor bewus is van Nina se drankprobleem, word hierdie botteltjies verlig tydens sekere tonele. Dit dien dus as voorbode en skep ’n sinister atmosfeer. Die plasing van die botteltjies onder die speelvlak herinner aan ’n kelder, ’n simbool vir dít wat onderdruk word. Die feit dat daar so baie van hulle is, suggereer dat Nina se probleem hand uitgeruk het – asof die botteltjies sonder haar medewete vermeerder het. Dit word duidelik dat Nina rooiwyn in botteltjies wegsteek en skelm drink. Die botteltjies het dus ook ’n praktiese funksie in die stuk. Saam met die bogenoemde narratiewe tegniek, werk hierdie simboliek uitstekend.

5

Foto: Sanmari Marais

Groot was my teleurstelling dus toe die belofte van ’n oop struktuur verbreek is teen die einde van die stuk. Hoewel die laaste toneel van “Stil” visueel absoluut asemrowend is, is dit ongelukkig ook ’n té netjiese ontknoping van die gebeure. Nina, hoewel vier maande swanger, is besope. Dit is duidelik nie die eerste of enigste keer wat dit gebeur nie. Daar is ’n rewolwer op die tafel. Sy is ontsteld omdat dit blyk dat Stef haar verlaat het. Sy aborteer dan self haar swangerskap met ’n breinaald. Sy begin bloei en terselftertyd val daar ’n emmer rooi vloeistof van bo af op die toneel. Hier moet ek noem dat dit ’n baie treffende oomblik is. Dit beklemtoon hoe gewelddadig, grusaam en onherroeplik hierdie tuisaborsie is. Ook is dit ’n uitstekende gebruik van die konvensies van teater: hierdie is die tipe voorstelling wat nie sal werk in ’n film, roman of gedig nie. Die gehoor moet teenwoordig wees om die vloeistof, soos ’n golf in die see, te sien naderkom, hulle ruik die “Jannie-verjaar-koeldrank” wat herinneringe van onskuldige kinderpartytjies oproep. Ook kan die aktrise nie ontsnap van die taai vloeistof nie – sy moet die res van die toneelstuk papsopnat deurspeel.

3

Foto: Sanmari Marais

Stef kom kort na die tuisaborsie by die huis en, voor hy bewus word van die skynbare slagting wat plaasgevind het, blyk dit dat hy wel nou kans sien om pa te word en Nina nie wil verlaat nie. Wanneer hy besef wat sy gedoen het, probeer hy haar help. Sy sê egter dat sy ook nou, soos hy, ’n gedig geskryf het en dra it dan voor aan die oorlede, ongebore baba wat sy in haar hand blyk vas te hou. Sy en Stef raak betrokke in ’n argument en sy rig die rewolwer op hom. Hy let haar daarop dat daar nagevolge sal wees as sy voortgaan om hom dood te skiet. Sy bieg dat sy die moord al lank beplan en dit soos selfverdediging gaan laat lyk: sy het dan ook selfs vir maande lank vals dagboekinskrywings gemaak wat vertel hoe Stef haar aanrand en verkrag. Die gehoor besef dus hier dat Nina gejok het tydens ondervraging en dat die weergawe van gebeure waarin Stef haar mishandel, nooit werklik gebeur het nie, maar deel van Nina se plan was om vir Stef te vermoor. Die ligte gaan af voordat Nina vir Stef vier maal skiet.

Ten spyte van die fenomenologiese trefkrag van hierdie toneel, kelder die narratief daarvan die ganse toneelstuk. Hoewel “Stil” dus voorgee om enige finale beslissings aan die gehoor oor te laat, word daar in werklikheid vir die gehoor uitgespel wat presies gebeur. Verder spreek die toneel ook van skokkende onkunde wat aborsie, tuisaborsie en die vroulike liggaam betref. Eerstens neem die aktrise ’n baie ongemaklike posisie in tydens die tuisaborsie – sy sit met een boud op die rand van die tafel. Ek kan nie dink dat dit die posisie is wat ’n mens instinktief sal inneem as jy jou baarmoeder met ’n breinaald wil bereik nie. Tweedens is ’n tuisaborsie iets wat baie versigtig uitgevoer moet word: dit is baie moeilik om ’n instrument soos ’n draadhanger of breinaald deur die serviks te begelei en ’n fetus raak te steek sonder om die wande van die baarmoeder ook raak te steek, soos dr. Jen Gunter, verloskundige en ginekoloog, en die Museum van Voorbehoeding en Aborsie in Wenen verduidelik. Verder kan die slagare rondom die baarmoeder raakgesteek word, wat tot massiewe, fatale bloedverlies sal lei. Daar is ook ’n risiko dat die dikderm geperforeer kan word wat fataal sal wees sonder toepaslike mediese hulp. Ek het dit dus baie vreemd gevind dat Nina, wanneer sy haar tuisaborsie uitvoer, die breinaald eers versigtig insteek en pyn registreer, maar dan verwoed begin om herhaaldelik haar ingewande met die breinaald te steek – asof sy ’n vis wat in ’n vat swem met ’n dolk probeer raaksteek. Hierdie bisarre aksie sou slegs geloofwaardig kon wees indien die baarmoeder ’n sfeer van staal was en die ongebore baba soos ’n goudvis daarbinne rondswem. Hierdie ongeloofwaardigheid word vererger deurdat Nina nie inmekaarsak nie, maar voortgaan om haar gedig (wat bedenklik baie na Stef se gedigte klink) aan die dooie fetus voor te dra. Sy bly die hele toneel deur staande en ten spyte van die bloedverlies, hou sy kop, argumenteer met Stef en voer dan ook haar plan om hom dood te skiet deur.

Derdens registreer Nina nie enige pyn en ongemak in die voorafgaande tonele wat, binne die fiktiewe konteks van die stuk, agt en veertig uur na die tuisaborsie en moord plaasvind nie. Weereens word die idee bevestig dat so ’n tuisaborsie amper geen fisieke impak het op die ma nie, maar bloot die fetus verwond.  Laastens is dit nie duidelik waarom Nina ’n tuisaborsie doen as sy vier maande swanger is nie. In Suid-Afrika is aborsie wettig tot op ’n draagtyd van twintig weke. Sy kon bloot ’n afspraak gemaak het by haar naaste Marie Stopes-kliniek.

In sy resensie van “Stil” in Beeld, skryf Rudi Sadler dat die skokkende gebeure in die drama gebruik word ter wille van die motivering van spanning en moord “en nie soseer om sosiale kommentaar daaroor te lewer nie,” hoewel dit ’n debat ontlok “deur die gehoor as ‘jurie’ te laat kant kies.” Ek wonder egter of dit moontlik is om iets so kontroversieel soos tuisaborsie uit te beeld sonder om sosiale kommentaar daaroor te lewer. Daar bestaan tog nie iets soos ’n neutrale teks nie. ’n Drama oor ’n kontroversiële onderwerp kan in een van twee rigtings beweeg: dit kan die status quo bevestig, of dit kan dit bevraagteken. In hierdie opsig bevestig “Stil” negatiewe vroulike stereotipes. Hoewel mens sou kon argumenteer dat Stef vir Nina tot haar aksies dryf deur afsydig te wees en te dreig om haar te verlaat wanneer sy swanger word, sou ’n redelike mens nie maklik soos sy reageer nie. Sy word as manipulerend en waansinnig uitgebeeld wanneer sy swanger raak sonder Stef se medewete en hom dan opgewonde van die nuus vertel, die fetus straf vir Stef se verwerping deur te drink en later die tuisaborsie te doen, lank beplan om hom te vermoor, hom as verkragter en vroueslaner uitbeeld en hom dan koelbloedig vermoor. So asof tuisaborsie iets is wat waansinnige vroue doen om mans te manipuleer.

Dit is nie dat ek argumenteer dat vroue noodwendig positief uitgebeeld moet word nie. Die probleem kom in by stereotipering, hetsy positief of negatief. Daar is ook verskeie negatiewe stereotipes van mans wat maklik as feit aangehaal word binne populêre kultuur (asof die patriargie afgetakel kan word deur mans sleg te sê) en dit is net so problematies. Een stereotipe kan egter nie ’n ander een ongedaan maak nie. In plaas daarvan om te suggereer dat mans nie noodwendig bose verkragters is en vroue onskuldige slagoffers nie (wat ’n baie geldige punt sou wees), val ’n produksie soos hierdie terug op die negatiewe stereotipering van vroue – wat in die eerste plek gelei het tot die behoefte aan die negatiewe stereotipering van mans.

Die gebrek aan navorsing lei dan ook tot verdere foute. Die beroepe van die onderskeie karakters word, onder andere, nie op ’n geloofwaardige manier uitgebeeld nie. Wanneer Stef homself aan Nina voorstel, sê hy dat hy ’n skrywer is. Dit blyk egter dat hy eerder ’n joernalis is as hy vertel dat hy vir die koerant skryf en al vier voorbladstories gehad het. Natuurlik bestaan daar baie skrywers wat ook joernaliste is om die pot aan die kook te hou. In “Stil” word die twee beroepe egter verwar: wanneer Stef ’n storie oor kindermoord vir die koerant moet skryf, vertel hy vir Nina hoe hy beplan om die inleiding te skryf. In hierdie inleiding gebruik Stef beeldspraak en ander narratiewe tegnieke eerder as die sober styl en gebruiklike vyf W’s en een H (wie?, wat?, waar?, wanneer?, waarom?, hoe?) van joernalistiek – so asof Stef ’n kortverhaal eerder as ’n koerantberig skryf. Hoewel die speurder haarself voorstel as “Inspekteur” en duidelik besig is met ’n polisie-ondervraging, sê sy vir Nina dat sy “nog nooit ’n saak verloor” het nie, asof sy ’n advokaat is.

Middagvertonings is berug daarvoor dat hulle afsteek teen aandvertonings, veral ten opsigte van die akteurs se energie. Ek wil dus nie té krities wees op die spelers nie, maar al drie se toneelspel het te kort geskiet by tye. Erasmus (as Stef) het bykans geen skok geregistreer wanneer sy karakter hoor dat Nina swanger is, of wanneer hy vir Nina in ’n plas bloed in die huis aantref nie. Hoewel Snyman (as Nina) ’n baie talentvolle sangeres is, het sy verbasend min stembeheer gehad wanneer sy toneel gespeel het. Gernandt (as die speurder) se spel het nie genoeg variasie getoon nie.

Ek is baie krities in hierdie bespreking, maar dit is juis omdat dit vir my onaanvaarbaar is dat ’n stuk wat sóveel potensiaal toon ondermyn word deur iets so slordig soos ’n gebrek aan navorsing. Die tipe navorsing wat ’n mens moet doen as jy ’n teks skryf is nie onderhewig aan ’n talent waarmee ’n dramaturg gebore hoef te word nie; dit is nie soos kreatiewe inspirasie wat onvoorspelbaar is nie; navorsing is werk. As dit ontbreek in ’n teks is dit iets wat kan, en móét, reggestel word. Die gehoor verdien niks minder nie.

Bronne:

Fifty Shades. 2016. “Fifty Shades Darker – Official Trailer (HD).” YouTube, 13 September. https://www.youtube.com/watch?v=n6BVyk7hty8 (Geraadpleeg: 3 Maart 2017).

Gunter, Jen. 2013. “Anatomy of a coat hanger abortion.” Dr. Jen Gunter, 13 Julie. https://drjengunter.wordpress.com/2013/07/13/anatomy-of-a-coat-hanger-abortion/ (Geraadpleeg: 4 Maart 2017).

Jannes Erasmus. 2016. “STIL Trailer – Jannes Erasmus Produksie.” YouTube, 6 Maart. https://www.youtube.com/watch?v=44p-FIIobvs (Geraadpleeg: 3 Maart 2017).

Keuris, Marisa. 1996. Die Dramateks: ’n Handleiding. Pretoria: J.L. van Schaik.

Marie Stopes South Africa. 2017. “Safe Abortion.” http://www.mariestopes.org.za/safe-abortion/ (Geraadpleeg: 4 Maart 2017).

MUVS. 2017. “The Consequences of Illegal Abortions with Knitting Needles (Left Inside)” Museum of Contraception and Abortion. http://en.muvs.org/abbruch/abb-koerpermodelle/folgen-der-illegalen-abtreibung-mit-stricknadel-steckt-noch-id1140/ (Geraadpleeg: 4 Maart 2017).

Sadler, Rudi. 2017. “Misdaadriller betrek gehoor.” Beeld, 2 Maart.

Universal Pictures UK. 2014. “Fifty Shades of Grey – Official Trailer (Universal Pictures) HD.” YouTube, 24 Julie. https://www.youtube.com/watch?v=SfZWFDs0LxA (Geraadpleeg: 3 Maart 2017).

“West Side Story.”

By: Leonard Bernstein, Arthur Laurents, and Stephen Sondheim
Featuring: Jonathan Roxmouth, Filipa van Eck, Christopher Japhta, Bianca le Grange, Stephen Jubber, Daniel Buys, Sven-Eric Müller, Cameron Botha, Clive Gilson, LJ Neilson, Elzanne Crause, Kristin Wilson, Tamryn van Houten, Caitlin Clerk, Adrian Galley, Natasha Hess, Ipeleng Merafe, Sibusiso Mxosana, Gemma Trehearn, Nurit Graff
Directed by: Matthew Wild
Musical direction: Charl-Johan Lingenfelder
Choreography: Louisa Talbot
Produced by: Eric Abraham and the Fugard Theatre
18 February 2017, 15:00
The Mandela, Joburg Theatre

SPOILER ALERT!

And so I found myself at another “pleasure machine,” as Dan Rebellato (2011) refers to musicals. But, as was the case with “Sweeney Todd,” I was very much impressed with “West Side Story.” The text is an apt and intelligent adaptation of Romeo and Juliet, demonstrating once more just how open to reinterpretation the Bard’s texts are. In this adaptation, the conflict between Shakespeare’s Montagues and Capulets is transposed to the conflict between American and Puerto Rican gangs in 1950s New York. Tony (Jonathan Roxmouth), a member of the American gang, the Jets, falls in love with Maria (Filipa van Eck), the sister of Bernardo (Christopher Japhta), a member of the PRs, a Puerto Rican gang. Although the text is dated with regard to transgender issues (one of the songs insinuates that transgenderism is a form of insanity), it is still very relevant with regard to the relationship between masculinity and violence.

It always fascinates me when masculinity is portrayed through a medium such as musical theatre. This is, of course, a venture that can fail miserably if the actors are not convincingly masculine. I found Deon Opperman’s “Tree Aan!” (2011), which was supposed to depict the hyper masculine milieu of the border war, to be lacking in testosterone. In “West Side Story,” however, testosterone was splashing into the auditorium. The dance sequences, which represented fight scenes, were executed with energy and precision, resulting in a beautiful fusion of fictional chaos and actual discipline. The actors’ physique contributed effectively to establish that specific brand of American masculinity associated with Marlon Brando and James Dean. The marginalisation, objectification, and vulnerability of women within this masculine milieu was depicted in an effective, and rather disturbing, scene where Anita (Bianca le Grange), who is Bernardo’s girlfriend and Maria’s best friend, is assaulted when she attempts to deliver a message to Tony. Le Grange’s acting was superb in this scene as she portrayed the devastating frustration of a strong, independent woman whose agency is thwarted as she (literally) gets hit below the belt whenever she transgresses into the masculine sphere.

The grey, minimalist set was the perfect backdrop for these displays of masculinity. Different spaces are represented through different stage levels and by adding certain striking details to the grey space. Most of the action takes place in alleys and unknown urban spaces. The fire escapes of Maria’s home and Tony’s place of work move in from the wings, while Doc’s drug store appears from the stage floor. Because the latter is in a basement, the structure can start moving back into the stage floor while the characters are climbing the stairs to the surface of the street and the scene can thus continue uninterrupted by a décor shift. There is also a space upstage which can be concealed or, alternatively, reveal symbolic formations and performances, such as the song that is sung when Maria forgives Tony for killing her brother in a gang fight. The set and choreography therefore created a production that was visually impressive.

The main performers were all cast very well. Christopher Japhtha’s Bernardo was convincing as the protective older brother who is also the adversary to the hero. Jonathan Roxmouth’s Tony contrasted sharply with the other men: he is taller, his movements are not as animated, and his voice is deeper. Even from the back of the auditorium, the audience’s gaze rests comfortably on him from the first moment he enters the stage. Similarly, the other women loo,ked gaudy in their flashy outfits next to Maria, in her simple white dress, at the dance where she and Tony first meet. The hardest part of staging any adaptation of this basic plot is, surely, to convince the audience that the short-lived romance between the main characters is overwhelming enough to motivate the rest of the plot. In this production, the chemistry between Tony and Maria was palpable from the start: whenever they were together, it was as if the rest of the world disappeared. Unfortunately, the same could not be said of the chemistry between Tony and Riff (Stephen Jubber). Although the text indicates, at various points, that these two characters share a special bond and are like brothers to each other, this was not evident from their body language. As a result, Tony’s avenging of Riff’s murder, by killing Bernardo, seems unmotivated.

Overall, “Westside Story” is a highly enjoyable production with enough meat on its bones to escape the pejorative adjectives usually attached to musicals.

References:

Rebellato, Dan. 2011. Does mega-musical boom mean theatre’s bust? The Guardian. http://www.theguardian.com/stage/theatreblog/2011/jan/18/mega-musicals-theatre-west-end (Accessed: 9 January 2017).

AARDKLOP 2016: “Beurtkrag.”

Deur: Stiaan Smith
Met: Ivan Botha, Donnalee Roberts
Regie: Jozua Malherbe
Vervaardiger: 17 Filmstreet Media en Artist Warehouse CC
8 Oktober 2016, 20:00
kykNET Gimmies

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Jasper (Ivan Botha) en Fransie (Donnalee Roberts) is smoorverlief en dolgelukkig en trek saam in. Die krag gaan af. Hulle begin vry, maar die atmosfeer word bederf deur ’n ou argument: destyds, nog voor hulle amptelik ’n paartjie was, het Jasper vir Fransie verneuk en sy sukkel steeds om hom heeltemal te vergewe. Die argument gaan sover dat hulle besluit om op te breek. Sy reël om by ’n vriendin te gaan oorslaap en hy beplan om haar uit die woonstel uit te koop. Hy maak egter ’n dramatiese liefdesverklaring en sy besluit om te bly. Die narratief word aangehelp met simboliese rekwisiete: ’n vieslike speelgoedswaard en Hitchcock, ’n Franse dashond uit porselein. Sy weier aanvanklik om die swaard, wat vir hom sentimentele waarde het, in die woonstel op te sit en hy breek per ongeluk die porseleinhond, wat weer vir haar sentimentele waarde het. Die stuk eindig waar hy vir Hitchcock met kleefband aanmekaarplak en sy instem om die swaard in hul woonvertrek uit te stal.

Hierdie romantiese komedie het dus raakpunte met die akteursduo se flieks, Pad na jou Hart (2014) en Vir Altyd (2016). Só trek die produksie nie net aanhangers van hierdie films nie, maar ook die sepie, 7de Laan, waarin Botha en Roberts albei gespeel het. Op ’n manier heel soortgelyk aan mense wat aanhangers van ’n bepaalde film is – sê nou maar Disney se The Lion King (1994) – en dan die musiekblyspelweergawe gaan kyk om deel van die ervaring te wees in lewende lywe, wil hierdie aanhangers hul gunstelingakteurs, en die tipe narratief wat hulle met die akteurs assosieer, in lewende lywe op die verhoog sien afspeel.

Ook die titel, “Beurtkrag,” is aanloklik vir Afrikaanse gehore. Dit verwys na ’n aktuele kwessie wat almal in Suid-Afrika raak en waaroor mense nie slegs kollektief verontrief en kwaad is nie, maar ook – soos Santam se “One-of-a-kind” advertensie (https://www.youtube.com/watch?v=ViorVDgiiOg) beweer – op ’n manier deel geword het van ons Suid-Afrikaanse identiteit. Mense voel dus ook asof die produksie dinge gaan aanspreek wat relevant is tot hulle lewens.

Hierdie strategieë is slim en dit het gewerk: die saal was vol en dit het gelyk asof die gehoor die stuk geniet.

Verder was die dekor ook baie slim: aangesien die karakters pas in ’n nuwe woonstel ingetrek het, is die verhoog gevul met kartondose. Dit is ’n sinvolle en goedkoop manier om ’n verhoog vol te maak en te transformeer, veral ’n skoolsaal se groot, leë, atmosfeerlose verhoog. Hulle het ook ’n kamera op die verhoog gehad waarmee die karakters hul eerste dag in hul nuwe woonstel dokumenteer en hierdie beeldmateriaal is agter op ’n muur van kartondose geprojekteer. Dit beklemtoon nie slegs die konflik wat sosiale media en die dokumentasie van hul lewens in hul verhouding veroorsaak nie, maar stel die regisseur ook in staat om op sleuteloomblikke ’n vergrote beeld van die karakters se gesigte aan die gehoor te wys.

Ongelukkig kom ’n produksie soos hierdie, wat op die aanhangers van sepies en romantiese komedies staatmaak, dikwels teen ’n prys en “Beurtkrag” is nie ’n uitsondering nie. Die verhaallyn is geyk en voorspelbaar. Dit steun swaar op genderstereotipes: sy is ’n onbuigbare beheervraat wat haar smaak op hom afdwing en hy is kinderagtig. Die rekwisiet wat vir hóm saakmaak (die speelgoedswaard) dra assosiasies van sy lewe as vrygesel en sy mansvriende, terwyl die rekwisiet wat vir háár saakmaak (Hitchcock) hulle verhouding simboliseer. Vroue mag dalk huishoudelike tiranne wees, maar hulle stel hul verhouding en ander mense altyd eerste, terwyl mans inskiklik en gemaklik, maar ook selfsugtig is en hul vriende eerder as hul lewensmaat prioritiseer. Moet ook nie vergeet dat mans noodwendig vroue verneuk, en vroue mans noodwendig probeer verander nie. En natuurlik vat dit slegs ’n dramatiese liefdesverklaring van die man om enige probleme in ’n verhouding onmiddelik op te los. Ek het begin wonder hoeveel mense werklik in sulke verhoudings is waar genderstereotipes al hulle gedrag en argumente dikteer?! En maak dit hulle nie waansinnig nie?!

Die produksie is dus geyk en essensialisties, maar die spel is oortuigend en die stel werk. Die stuk bereik sy doel. Dit is dalk net te sentimenteel vir my koue, siniese hart van klip.

AARDKLOP 2016: “Amper, Vrystaat.”

Deur: Antoinette Louw, Milan Murray, Cintaine Schutte, Nico Scheepers
Met: Antoinette Louw, Milan Murray, Cintaine Schutte
Regie: Nico Scheepers
Vervaardiger: Antoinette Louw
8 Oktober 2016, 16:30
kykNET Gimmies

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Een van die nadele van kunstefeeste, en veral die toneelbedryf in Suid-Afrika waar meeste teaterbywoning by kunstefeeste gebeur, is dat mens soms forseer word om drie toneelstukke op een dag te sien. Ek probeer dit gewoonlik beperk tot twee, maar dit is nie altyd moontlik nie en op die ou end moet ek kies om óf drie stukke op een dag te sien, óf een van die stukke glad nie te sien nie. Teen vieruur was ek nog glad nie gereed om weer teater toe te gaan na die oggend se vertoning van “Pa” nie. En dan moet ek die volgende toneelstuk boonop in Potchefstroom Gimnasium se saal gaan kyk: behalwe dat die plek vir my slegte hoërskoolherinneringe oproep, is dit ook nie geskik vir toneel nie.

Wanneer ek so voos by ’n teater instap kry ek die akteurs altyd vreeslik jammer. In 2010 moes ek van ’n vertoning van “Die Kortstondige Raklewe van Anastasia W” in die Totiussaal hardloop tot by “Spyt” by Laerskool Mooirivier. Ek was baie angstig dat ek laat sou wees vir die tweede vertoning en na die kragtige eerste vertoning het ek glad nie kans gesien om onmiddelik iets anders te kyk nie. Eers toe dit begin het ek besef dat Nicole Holm in albei produksies spéél. In hierdie geval het Milan Murray in beide “Pa” en “Amper, Vrystaat” gespeel. Hoewel daar heelwat tyd was tussen die twee produksies, verwonder ek my steeds aan haar energie.

My moed het verder in my skoene gesak toe ek sien dat die stuk meestal steun op direkte aanspreek van die gehoor. Dit is iets wat ek te veel op Afrikaanse verhoë sien. Wat drama by uitstek onderskei van poësie en prosa is dat dit ’n verhaal of gebeure aan die gehoor wys eerder as om dit aan hulle te vertel. ’n Meer gesofistikeerde teks laat die gehoor toe om hul eie afleidings oor die karakters te maak, eerder as dat karakters aan die gehoor vertel presies hoe hulle voel en waarom. Vir my voel dit of die monoloë wat karakters aan die gehoor rig eerder karaktersketse is wat die dramaturg skryf in voorbereiding tot die finale weergawe van die teks.

In “Amper, Vrystaat” was die direkte aanspreek van die gehoor egter geslaagd en die stuk het gesorg vir ’n baie aangename kykervaring. Drie uiteenlopende susters vertel om die beurt van hul kinderjare op die klein Vrystaatse dorpie, Amper, die disfunksionele gesin waaruit hulle kom en hoe hulle uitmekaar gedryf het. Bea (Antoinette Louw) het as tiener weggeloop van die huis af en het sedertdien ’n verhouding met ’n getroude man wat haar finansieel ondersteun, maar nooit sy vrou vir haar sal los nie. Sy probeer egter haar uiterste bes om elegant en kosmopolities voor te kom en haar 1950s Hollywood-geïnspireerde klerekas verklap nie dat sy in ’n vervalle woonstel in Wonderboom woon nie. Liz (Milan Murray) is die “no nonsense” ma van ’n groot kroos (by verskillende mans). Sy woon in ’n estate in Pretoria-Oos maar verdiep haar in die geheim in wetenskapsfiksie en fantasie. Annatjie (Cintaine Schutte) is ’n lesbiese hipster wat onlangs Kaap toe getrek het. Die stuk kom tot ’n klimaks wanneer die drie susters en hul ma saam Kersfees vier en Annatjie uit die kas uitkom.

Die drie aktrises het elkeen baie goed daarin geslaag om ’n geloofwaardige karakter te skep. Hulle het stereotipes net genoeg egtheid gegee sodat dit vir die gehoor voel of hulle elkeen van die karakters in die werklike lewe al raakgeloop het. Tragiese gebeure is uitgebeeld met net genoeg komiese verligting om die gehoor se simpatie te wen sonder om stroperig te raak – soos wanneer Bea met ’n luiperdpelsjas en donkerbril by hul ma se begrafnis opdaag.

Die treffendste deel van die stuk is die Kersete by Liz se huis. Die sluimerende konflik en onversoenbaarheid tussen die karakters is onmiddelik tasbaar. Die gehoor voel saam met die karakters ongemaklik en senuweeagtig. Die spanning bou geleidelik en loop dan uit op ’n lelike argument. Die ensemblespel was puik en dié toneel herinner aan Tracy Letts se Pulitzer Pryswenner, August: Osage County (2008). Juis daarom wens ek dat die gehoor meer van hierdie ensemblespel kon sien in plaas daarvan dat die gebeure verder deur die karakters aan die gehoor vertel word.

Hoewel die dekor esteties treffend was, was dit glad nie funksioneel nie en ek was verbaas om te lees dat dit ’n Fiësta-toekenning gewen het. Drie gloeilampe hang van die treklatte af tot agter elke aktrise wat elkeen bo-op ’n hopie spoelklippe staan. Van sekere hoeke af skyn die gloeilampe se lig reg in die gehoor se oë in, wat steurend is. Omdat Gimmies se verhoog hoër is as die siglyn van die gehoor, kon mens nie die spoelklippe sien nie, maar dit het geraas elke keer as ’n aktrise opstaan en hulle het soms gesukkel om hul staan te kry. Verder het dit wit merke agterop Antoinette Louw se swart rok gelaat. Die klippe stel sekerlik voor hoe elke karakter op haar eie simboliese eiland uitgespoel het, maar ek het gevoel dat die metafoor nie verder onderstreep hoef te word nie. Myns insiens sou drie stoeltjies met kolligte beter gewerk het.

Ten spyte hiervan is “Amper, Vrystaat” ’n aangename kykervaring met puik spel en ’n teks wat baie potensiaal toon.

AARDKLOP 2016: “Pa.”

Deur: Florian Zeller
Met: Chris van Niekerk, Milan Murray, Stian Bam, Roeline Daneel, Ira Blanckenberg, Gustav Gerdener
Regie: Hennie van Greunen
Ontwerp: Nico Scheepers, Theo Kleynhans
Musiek: Pedro Kruger
Vertaling: Elouise du Toit, Naomi Morgan
Vervaardiger: Pedro Kruger vir Wordsmith’s Theatre Factory
8 Oktober 2016, 10:00
Weet en Sweet

Wanneer ’n toneelstuk my emosioneel intrek, is dit vir my baie moeilik om dit objektief te beoordeel. Hoewel ek uiteraard myself toelaat om meegevoer te word deur ’n toneelstuk, maak ek deurgaans notas in my gedagtes en distansieer myself van tyd tot tyd emosioneel om te bepaal of die stuk slaag in dit wat hy aanpak. In ’n toneelstuk soos “Pa” was ek op ’n stadium só emosioneel geraak dat ek opgehou het om te probeer om krities te kyk en later net gesit en huil het.

En tog is dit op sigself sekerlik ’n goeie teken. As ’n toneelstuk die gehoor diep raak, het die akteurs en produksiespan iets reg gedoen. Alzheimer se siekte, demensie en veroudering is onderwerpe wat by meeste gehoorlede ’n emosionele snaar sal raak. Wanneer dit nie reg aangepak word nie, kan die stuk ontaard in ’n didaktiese bewusmakingsveldtog. “Pa” slaag egter daarin om die gehoor intens bewus te maak van die ervaring van iemand wat aan demensie ly sonder om ooit prekerig of sentimenteel te raak.

Die verhoogruimte en rolbesetting word op ’n baie funksionele manier gebruik om die gehoor in te trek in André (Chris van Niekerk), ’n 65-jarige wat aan Alzheimer se siekte ly, se ervaring. Met elke dekorwisseling verander die stel: boekrakke word vervang deur panele en sommige meubelstukke verdwyn of word vervang met ander. André se dogter, Anna (Milan Murray/Ira Blanckenberg), haar man (Gustav Gerdener/Stian Bam) en die verpleegster (Roeline Daneel/Ira Blanckenberg) tree op asof niks skort nie maar André en die gehoor word al meer verward. Die rolle word verdubbel wat maak dat Anna eweskielik heeltemal vreemd lyk wanneer sy van die dorp af kom, en haar man lyk ook van tyd tot tyd na ’n vreemdeling.

Aanvanklik kan die gehoor nog sin maak van die situasie en onderskei tussen dít wat werklik gebeur (binne die fiktiewe konteks, natuurlik) en dít wat André hallusineer of verwar met vorige gebeure. Later raak dit al hoe moeiliker.

Die spel was deurgaans uitstekend en myns insiens sou Chris van Niekerk ’n voor die hand liggende keuse gewees het vir die toekenning vir beste akteur. Daar is een bepaalde toneel wat vir my uitstaan. Anna se man, Pierre, word meestal deur Stian Bam vertolk. Bam troon fisiek bo die ander karakters uit wat hom intimiderend maak. By tye word Pierre deur Gustav Gerdener, wat heelwat korter is, vertolk. Die karakter behou egter die intimiderende liggaamlikheid wat Bam reeds daaraan gegee het. In hierdie bepaalde toneel is die spanning wat André se toestand vir die mense rondom hom veroorsaak reeds duidelik. Gerdener, as Pierre, konfronteer vir André en vra hom uit frustrasie hoe lank hy nog hulle lewens gaan “opfok.” Pierre klap vir André dan liggies deur die gesig, maar hy doen dit herhaaldelik. André se vernedering en weerloosheid was tasbaar. Ek het ook gewonder of Pierre nie dan juis Bam se fisieke gestalte in André se verbeelding aanneem as gevolg van hierdie vernedering nie. ’n Mens is teen hierdie tyd glad nie meer seker of Pierre vir André werklik so verneder en of dit bloot ’n hallusinasie is nie. Watookal die geval, André is absoluut uitgelewer en sy situasie is tragies.

Vanweë verskeie misverstande is daar ook komiese verligting in die teks. Die gevolg is ’n toneelstuk wat baie ernstige en swaar temas aanpak sonder om stroperig, melodramaties of voorskriftelik te raak. Dit is geen geringe prestasie nie.

AARDKLOP 2016: “So ry Miss Daisy.”

Deur: Alfred Uhry
Met: Sandra Prinsloo, John Kani, Jacques Bessinger
Regie: Christiaan Olwagen
Stelontwerp: Rocco Pool
Beligtingsontwerp: Wolfie Britz
AV-ontwerp: Jaco Bouwer
Kostuums: Birrie le Roux
Vertaling: Saartjie Botha
Vervaardiger: Saartjie Botha
Produksiebestuurder: Cintaine Schutte
7 Oktober 2016, 20:00
KykNet Gimmies

Hierdie produksie was met goeie rede ’n lokettreffer. Dit voel amper oorbodig om te sê die spel was uitstekend, siende dat twee veteraanakteurs die rolle van Hoke (John Kani) en Miss Daisy (Sandra Prinsloo) vertolk het. Die dekor was funksioneel en esteties treffend en die teks is baie goed aangepas by die Suid-Afrikaanse konteks. En tog voel ek dat my hele teaterervaring ontsettend voorspelbaar was, want teen dié tyd daag die teks nie werklik meer die gehoor uit nie (behalwe seker vir gehoorlede wat báie ver regs is). Waar Sandra Prinsloo uitgekryt is as ’n “hoer” deur die Afrikaanse pers toe sy in die tagtigerjare teenoor die einste John Kani in Miss Julie gespeel het, is beide van hulle vandag lieflingakteurs. Dus sál hierdie stuk goed verkoop. En daar is niks op sigself fout daarmee nie – inteendeel – die teaterindustrie, en kunstefeeste, het sulke stukke broodnodig.

“So ry Miss Daisy” se verhaallyn is bekend aan meeste teatergangers danksy die 1989 filmweergawe van die teks. Miss Daisy se seun voel dat sy ma nie meer moet karbestuur nie. Hy neem vir Hoke, ’n professionele chauffeur, in diens. Miss Daisy wil eers niks weet van die vreemdeling wat haar nou moet rondry nie, maar die twee raak mettertyd hegte vriende, ten spyte van die ras- en klaslyne wat hulle aanvanklik skei.

Die regisseur het innoverende maniere gebruik om die tonele wat in Miss Daisy se kar afspeel voor te stel. Hoke en Miss Daisy sit op stoele wat in ander tonele die interieur van haar huis voorstel. Die stoele is geskuif om hul posisies in die kar aan te dui. Hoke mimiek die stuurwiel en rathefboom. Straattonele word dan op ’n agterste skerm geprojekteer om die illusie te skep dat die karakters in ’n dorp rondry. Die kostuums was ook baie funksioneel. Hoke het deurgaans ’n driestuk pak klere aan, met ’n keps wanneer hy bestuur. Miss Daisy dra ’n beige Chanel pakkie met swart sykouse. Beide hierdie kostuums dien as ’n tipe uniform vir die karakters – Hoke is werklik in uniform, en daardie bepaalde Chanel pakkie spreek boekdele oor Miss Daisy se sosio-ekonomiese status en is neutraal genoeg om kostuumwisselings uit te skakel. Klein veranderings is aangebring soos die konteks vereis – so dra Miss Daisy byvoorbeeld verskillende hoede vir verskillende geleenthede.

En tog wens ek dat die stuk meer genuanseerd met die komplekse temas van klas, ras en weerloosheid omgegaan het. Die twee hoofkarakters steun albei sterk op stereotipes en die mooi vriendskap wat tussen hierdie twee onwaarskynlike mense ontwikkel slaag baie goed daarin om enige middelklas-skuldgevoelens oor kolonialisme te sus. Ek besef dat daar waarskynlik werklik mense bestaan het (en steeds bestaan) wie se konserwatiewe of rassistiese politieke oortuigings verander het as gevolg van ’n hegte vriendskap wat, onder watter problematiese omstandighede ookal, vir ’n Damaskus-ervaring gesorg het. En hulle stories moet vertel word. Maar ek wonder steeds of Suid-Afrikaanse gehore nie gereed is vir iets meer uitdagends nie.

AARDKLOP 2016: “’n COCK en BULLshit storie.”

Deur: Richard Zajdlic, Richard Crowe
Met: Edwin van der Walt, Dean-John Smith
Regie: Marthinus Basson
Stel-, en kostuumontwerp: Marthinus Basson
Vertaal en verwerk deur: Quentin Krog, Geon Nel, Marthinus Basson
Vervaardiger: RAMINIDAM, Chris Pienaar
7 Oktober 2016, 15:00
Boys High

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Hierdie teks is só kompleks en bied sóveel uitdagings aan twee jong akteurs, dat dit nie ’n wonder is dat Marthinus Basson dit weer op die planke bring nie, nadat dit tien jaar gelede met Quentin Krog en Neels van Jaarsveld by hierdie selfde kunstefees opgevoer is. Die teks speel af in die kleedkamer van ’n bokskryt. Hoewel die gehoor nie ’n boksgeveg self sien nie, sien ons die konfrontasie tussen TJ (Dean-John Smith), ’n semi-professionele bokser en sy beste vriend, Jaco (Edwin van der Walt) voor en na ’n belangrike geveg. In die proses word ingewikkelde vraagstukke rondom manlikheid en homososiale interaksie ondersoek. Homososiale interaksie verwys na die spektrum van verhoudings wat tussen twee mense van dieselfde geslag kan bestaan – van ’n homoseksuele verhouding tot ’n platoniese vriendskap. Hierdie term beklemtoon ook dat hierdie tipe interaksie nie noodwendig slegs die een of die ander is nie, maar stel voor dat seksualiteit vloeibaar is.

Dit is dan juis Jaco se homofobie en sy vermoede dat TJ gay is wat hierdie tema sterk uitlig. Binne ’n streng heteronormatiewe samelewing is die hegte vriendskap tussen TJ en Jaco slegs moontlik onder bepaalde voorwaardes. Hierdie voorwaardes sluit in dat albei mans baie beslis heteroseksueel is en dat hulle hul heteroseksualiteit en manlikheid herhaaldelik aan mekaar bewys. (Binne hierdie tipe opset is manlikheid natuurlik sinoniem met heteroseksualiteit.) Dit lei verder tot ’n situasie wat vir my geweldig teenstrydig is. Enige intimiteit en privaatheid buite die vriendskap word sterk ontmoedig – so word seksuele oorwinnings (seks is nooit meer as ’n verowering nie) tot in die fynste besonderheid gedeel en enige huiwering in hierdie verband is ’n groot taboe. Terselftertyd word daar dus aangedring op intimiteit binne die vriendskap in hierdie “bros before hoes” scenario. Dit is asof daar ’n behoefte aan seksuele intimiteit is tussen die twee vriende, en dat dit uitgeleef word in hierdie sogenaamde tentoonstellings van heteroseksuele manlikheid. Jaco ontsien dan ook geen grens van privaatheid in sy soeke om te bepaal of TJ gay is of nie.

Dus bied die teks fantastiese emosionele en fisiese uitdagings aan ’n akteur: om te oortuig as ’n semi-professionele bokser moet die akteur net so fiks en sterk wees as wat ’n bokser in daardie situasie sal wees. Hierdie twee akteurs het hulle uitstekend van die taak gekwyt. Dean-John Smith het obsoluut oortuig as ’n bokser en sy weerloosheid, terwyl Jaco niks ontsien om TJ se mees private en persoonlike geheime bloot te lê nie, was tasbaar. Ek was baie verbaas om te sien hoe grillerig Edwin van der Walt kan lyk. Hoewel hy al vantevore goeie vertolkings gelewer het in – onder andere “macbeth.slapeloos” (2014) – het hy hier met stywe, geskeurde klere en lang, teruggejelde hare, baie beslis weggebreek van skoongesig, Jacques Rynhardt-tipe rolle.

Die verhoogruimte is uitstekend gebruik. Die gehoor kry duidelik die gevoel dat hulle ’n testosteroongelade ruimte betree. Die feit dat die hele toneel binne hierdie ruimte afspeel, skep ook die idee dat die karakters vasgekeer word deur die samelewing, mekaar, en ook ander kragte van buite (soos die polisie wat op Jaco se spoor is na ’n straatgeveg). Wanneer die verhoog verdonker, soos byvoorbeeld wanneer TJ se boksgeveg aan die gang is, word die speelruimte slegs belig met ’n groen lig wat van die kant af inskyn. Dit sorg vir ’n onheilspellende atmosfeer. Tydens sekere konfrontasies tussen TJ en Jaco, speel Jaco met ’n stel veerpyltjies wat hy herhaaldelik in die vloer ingooi. Hy mik by tye baie naby aan TJ se voete, en dit verhoog die spanning van die hele produksie merkbaar. Hierdie produksie slaag baie goed daarin om die gehoor te laat met ’n gevoel van ongemak, nie slegs deur die swaar temas wat in die teks aangeraak word nie, maar ook deur elke aspek van die produksie.

AARDKLOP 2016: “Die Vrou uit die See.”

Deur: Henrik Ibsen
Met: Jana Strydom, Neels van Jaarsveld, Erik Holm, Kaz McFadden, Amalia Uys, Theodore Jantjies, Natasha Dryden, Gavin van den Berg
Regie: Henry Mylne
Stel-, kostuum- en beligtingsontwerp: Wilhelm Disbergen
Klankontwerp: Henry Mylne
Vervaardiger: Innibos Kunstefees
7 Oktober 2016, 9:00
Sanlam Ouditorium

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Elke keer wat ek ’n teks van Ibsen sien of lees is ek van voor af verbyster oor hóé relevant die temas in sy werk vandag nog is, hoewel dit meer as 100 jaar gelede geskryf is. Dit is geen wonder dat Ibsen se dramas kontroversie veroorsaak het toe dit aanvanklik opgevoer is nie. Ibsen se tekste ontmasker dikwels patriargie en fokus op die gebondheid van die vrou, haar gebrek aan agentskap, in ’n patriargale samelewing.

“Die vrou uit die see” handel dan ook oor die verhouding tussen dr. Wangel (Neels van Jaarsveld) en sy tweede vrou, Ellida (Jana Strydom). Hoewel dié twee skynbaar aanvanklik geheg was aan mekaar, is hulle besig om verder van mekaar af weg te dryf wanneer die drama begin. Sy word nie alleen vervreem van Wangel nie, maar ook van sy twee volwasse dogters (Amalia Uys en Natasha Dryden). Ellida se hunkering na die see simboliseer dan ook ’n hunkering na ’n eertydse minnaar aan wie sy steeds gebonde voel. Aanvanklik probeer Wangel haar forseer om afstand van die man te doen, maar hoe meer hy Ellida haar agentskap ontneem, hoe meer voel sy aangetrek tot die minnaar uit haar verlede. Dit is eers wanneer Wangel vir Ellida toelaat om self te kies of sy hom gaan verlaat of nie, dat sy ophou hunker na die see en die man uit haar verlede.

14632512_10155400490372178_861355889_o

Ellida (Jana Strydom) word gekonfronteer met die vreemdeling (Theodore Jantjies) uit haar verlede. Foto: Wilhelm Disbergen.

Hierdie Afrikaanse opvoering van die teks is werklik indrukwekkend en vir my ’n Aardklop-hoogtepunt. Die vertaling is vloeiend – dit is jammer dat die feesgids nie noem wie die vertaler is nie. Die rolbesetting is baie goed gekies – dit is moeilik om akteurs uit te sonder, aangesien elkeen ’n uitstekende emosionele sowel as tegniese vertolking gelewer het. Jana Strydom se sterk gelaatstrekke en donker stem het ’n gesaghebbendheid aan die komplekse karakter van Ellida gegee. Ek sou graag wou sien dat sy amptelike erkenning kry vir haar vertolking van hierdie rol. Tydens die klimaks van die stuk, wanneer Wangel sy liefde aan Ellida verklaar maar haar terselftertyd haar vryheid gee, het Neels van Jaarsveld met ’n beteuterde postuur op die grond gesit. Dit het ’n weerloosheid aan sy karakter gegee wat die impak van Ellida se besluit om by hom te bly soveel groter gemaak het. Erik Holm het die rol van Arnholm knap vertolk en sy rolstoel is moeiteloos in die teks geïnkorporeer. Kaz McFadden se komiese tydsberekening was absoluut in die kol met sy vertolking van die onbeholpe Lyngstrand.

14572484_10155400490422178_341945584_o

Dr Wangel (Neels van Jaarsveld) en sy dogter, Bolette (Amalia Uys) ontvang hul besoeker, dr Arnholm (Erik Holm). Foto: Wilhelm Disbergen.

Die stel- en kostuumontwerp het gesorg vir estetiese trefkrag wat die simboliek van die teks gekomplimenteer het. Wilhelm Disbergen se stel is ’n kunswerk. Nadat ek met hierdie produksie bederf is, het baie van die ander Aardklopproduksies se (heel verdienstelike) stelle vir my soos skoolkonsertdekor gelyk. Drie soliede panele omraam die speelvlak gedeeltelik – daar is ’n deur in een van die panele wat, onder andere, die ingang na die Wangel-woning voorstel. Die middelste paneel kan vorentoe en agtertoe beweeg om ’n opening te vorm waardeur die akteurs kan beweeg. Hierdie panele is in ’n neutrale kleur en word dan ook gebruik om projeksies te vertoon wat die verskillende ruimtes voorstel waarin die karakters hulle bevind. Die verhoog word verder deur enkele dekorstukke, soos rotse en stompe, of ’n rystoel en kleiner tafeltjies, ingeklee. Dit is minimalisties en funksioneel.

14585493_10155400490687178_1476886125_n

Ellida (Jana Strydom) en die vreemdeling (Theodore Jantjies). Foto: Wilhelm Disbergen.

Al die akteurs, behalwe vir Jana Strydom, dra goties-geïnspireerde kostuums in donker, neutrale kleure. Ellida se kostuums is lang, vloeiende rokke in kleure wat herinner aan die see. Dit het die tema van sosiale beklemmendheid onderstreep en ook baie duidelik die idee tuisgebring dat Ellida ’n buitestaander is en nie heeltemal tuis is in die Wangel-gesin, of die gemeenskap nie.

14585679_10155400490942178_1500130701_o

Lyngstrand (Kaz McFadden), Bolette (Amalia Uys), Hilde (Natasha Dryden) en Arnholm (Erik Holm) verwyl tyd in die berge. Foto: Wilhem Disbergen.

Die ontknoping bind die teks baie netjies saam – in die heel laaste toneel staan die karakters in ’n formasie en kyk hoe die laaste skip van die seisoen verbyvaar. Hierdie einde was effens soetsappig na my postmoderne smaak, maar dit is te verwagte van ’n teks wat in 1888 geskryf is.

Oor die algemeen is hierdie ’n puik, afgeronde produksie. Dit sorg vir ’n baie bevredigende kykervaring: toneel op sy beste.

“Othello.”

By: William Shakespeare
Featuring: Jiří Štěpnička, Alois Švehlík, Vladislav Beneš, Karel Dobrý, Igor Orozovič, David Prachař, Patrik Děrgel, Jan Jankovský j. h., Jana Boušková, Magdaléna Borová, Lucie Žáčková j. h., Jana Janěková ml.
Directed by: Daniel Špinar
Translated by: Jiří Josek
Adapted by: Daniel Špinar and Daria Ullrichová
Dramaturg: Daria Ullrichová
23 September, 19:00
Národní divadlo, Stavovské divadlo (Prague State Theatre, The Estates Theatre).

Following through on my resolution to attend a play whenever I travel abroad, turns out to be quite interesting, if daunting, when travelling in non-English speaking countries. Since I cannot understand Czech, I chose to attend a play in Prague that I would know the plot of, so that I would not be completely lost. The National Theatre, Prague, did offer surtitles in English for this play, but since I was prepared to watch the play without a translation (and having booked in the fourth row), I only glanced at the surtitles every now and then.

The first act is staged in front of the main tabs. There is little to no décor (only a microphone stand if I remember correctly). The action begins as Iago (David Prachař) and Roderigo (Patrik Děrgel) fight behind the tabs. As they crash into the curtain their forms can be discerned until finally they break through the main tabs and the rest of the action happens in clear sight. Othello is portrayed by a Caucasian actor (Karel Dobrý), but his arms are covered in bold, stripe-like tattoos, marking him as different from the other characters. In addition, the other characters’ faces are lightly covered in white powder. All the characters wear black, with the exception of Othello, Desdemona (Magdaléna Borová) and Bianca (Jana Janěková ml.).

After the main tabs have been raised, a type of waiting room with drab brown panels and three clocks, displaying the time in Cyprus, Venice and Stratford respectively, is revealed. There are also benches that look like they belong in a waiting room. In the back wall of this room there are transparent panels with doors leading to an indoor shooting range. Some of the conversations between characters are staged here – sometimes as they are practicing their shooting. With the help of microphones, they are still audible, but very definitely removed from the audience. I found this to be quite effective in making the audience feel like eavesdroppers to confidential conversations.

The celebrations following the wrecking of the Turkish fleet is developed into a soiree reminiscent of the roaring 1920s. The staging of this scene is quite spectacular. The drab waiting room is decorated with kitsch party paraphernalia, like a plastic tiger on wheels and a brightly coloured foil balloon in the shape of a heart. The scene opens with Desdemona, in a stunning red evening dress, singing a goose bump inducing rendition of Nina Simone’s “Wild is the Wind”. An atmosphere of decadence is very effectively established. Emilia (Lucie Žáčková j. h.) wears a black peplum dress and high heels. Her bright red, curly hair is cut into a chin-length bob. She wears bright red lipstick, chain smokes and seems to be always a little bit tipsy. After the celebration scene, a tableau in which the characters dance in slow motion is staged behind the transparent panels. This gives an ominous feeling to the decadent celebrations.

Throughout the play, tension builds very effectively. Two theatre taboos have already been broken (touching the main tabs and showing clocks on stage). This could already make the audience somewhat uncomfortable. This feeling reaches its height in a confrontation over a drink between Iago and Cassio (Igor Orozovič). Instead of handing Cassio a glass, Iago tosses it to him, and the glass is thrown around a few times. The unease that these staging choices cause in the audience on a representational level is therefore very successfully employed to heighten the tension on a fictional level. Without understanding a word of the play, I was therefore very much drawn into the action.

“As.”

Deur: Jannes Erasmus
Met: Zoricke Snyman, Deànré Reiners, Shenay O’Brien en Sebastian Schütte
Regie: Jannes Erasmus
Stel- en beligtingsontwerp: Wilhelm Disbergen
9 Junie 2016, 20:00
Staatsteater, Momentum.

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

As begin die oomblik wanneer die gehoor by die Momentumteater instap. Plekaanwysers begelei die teatergangers deur ’n indrukwekkende stel wat ’n skrootwerf voorstel. Dit is donker en stowwerig en daar heers ’n onheilspellende atmosfeer. Motorwrakke staan opmekaargestapel, ’n vrou lê en ruk op ’n hoop rommel, haar onderklere is afgetrek tot op haar knieë. Sy is duidelik verkrag. Om die hoek slaan ’n man met ’n pyp teen ’n motorwrak. Hy is getatoeëer, kaal bolyf en duidelik gevaarlik. Hoewel ’n mens die ritmiese slae na ’n ruk begin verwag, het ek steeds elke keer geruk van die skrik. Die gehoor word gelei na ’n groepering kratte en ander wrakstukke waarop gesit kan word. Hoewel mens vooraf ingelig word dat jy op énige plek op die stel kan sit, is dit nie werklik prakties nie, aangesien daar steeds ’n afgebakende speelarea is. Die plekaanwysers het dan ook gehoorlede wat binne die speelarea gaan sit het begelei om eerder op die groepering kratte plaas te neem.

Ten spyte van hierdie effense steuring, was die atmosfeer aanvoelbaar. ’n Mens het dadelik besef dat jy ’n gevaarlike ruimte betree het waar alles nie pluis is nie. Wanneer die gehoor rustig raak, kom die spelers opgestap: hulle is versigtig en bang vir iets of iemand wat hulle moontlik agtervolg. Die oomblik wanneer hulle egter begin praat, word die amper magiese atmosfeer verbreek.

Aster (Zoricke Snyman) lees vir Asjas (Deànré Reiners) die storie van Aspoestertjie voor. Foto: Wilhelm Disbergen.

Aster (Zoricke Snyman) lees vir Asjas (Deànré Reiners) die storie van Aspoestertjie voor. Foto: Wilhelm Disbergen.

Zoricke Snyman en Deànré Reiners speel die rolle van Aster en Asjas, twee hawelose sibbe. Pottie, gespeel deur Sebastian Schütte, laat hulle op die skrootwerf woon in ruil vir seksuele gunse. Uit Aster en Asjas se dialoog word dit duidelik dat Pottie nie skroom om te moor nie. Dit word ook duidelik dat Asjas aan een of ander seldsame siekte ly wat geheueverlies veroorsaak. Tydens ’n stryery skeur Asjas en Aster hulle storieboek en in die proses “val” die karakter, Aspoestertjie, uit haar verhaal uit en land in Aster en Asjas se werklikheid. Sy vertel hulle dat die een wat haar kan terugstuur na haar werklikheid ’n belonging sal kry. Om dit reg te kry, moet iemand met ’n “rein hart” Aspoestertjie se storie vertel sonder onderbreking. Die aangewese persoon om dit te doen is Asjas wat dan hopelik, as beloning, genees sal wees van sy “siekte.” Die probleem is dat Asjas se geheue hom nie toelaat om dit te doen nie. Aspoestertjie en Aster dink wel ’n plan uit: hulle help vir Asjas om met behulp van ’n tekening van die planete op ’n ou hemp en die rympie “Meneer Van As, My Jas Sal U Nie Pas” die storie deur middel van assosiasie te onthou. Asjas sukkel egter, en dring daarop aan om op die hoogste opgestapelde wrak op die stel te staan. Hier is hy dan ’n maklike teiken vir Pottie wat wraak soek nadat Aster geweier het om hom sy laaste betaling vir hul verblyf te gee. Pottie skiet vir Asjas dood, en die vertoning eindig waar Aster en Aspoestertjie huil met Asjas se lyk in hul arms.

Aster (Zoricke Snyman) en Aspoestertjie (Shenay O'Brien) luister hoe Asjas (Deànré Reiners) die sprokie probeer onthou voordat Pottie (Sebastian Schütte) hom doodskiet.

Aster (Zoricke Snyman) en Aspoestertjie (Shenay O’Brien) luister hoe Asjas (Deànré Reiners) die sprokie probeer onthou voordat Pottie (Sebastian Schütte) hom doodskiet. Foto: Wilhelm Disbergen.

Die verhaallyn maak egter nie heeltemal sin nie. Eerstens word Asjas se “siekte” nooit verder verduidelik nie. Hy kan nie meer die alfabet opsê nie en tree kinderlik op, maar praat verder normaal en weet selfs beter as sy suster hoe om by ’n “drive thru” te bestel. Sou sy spraak nie in ander opsigte ook aangetas gewees het nie? Ek dink byvoorbeeld aan ’n film soos Still Alice of Nick Payne se toneelstuk, Constellations, waarin ’n karakter aan ’n vorm van geheueverlies ly en dit haar spraak op ’n bepaalde manier aantas. Aster toets op ’n stadium Asjas se geheue deur hom te vra hoe oud hy is, en hy antwoord dat hy tien jaar oud is. Ek is nie seker of hy vanweë sy “siekte” teruggekeer het na die verstandelike vermoëns van ’n tienjarige en of hy werklik tien jaar oud is nie. In die eerste geval word die agteruitgang op ’n eenvlakkige, vereenvoudigde manier vertolk. In die laaste geval is ek nie seker waarom Asjas dan deur ’n volwasse akteur gespeel word nie. Verder is dit ook onduidelik uit watter deel van die sprokie Aspoestertjie kom. Sy kom ingestap met slegs een skoen aan en is op soek na die ander. Haar grimering is gesmeer en dit lyk of sy pas wakker geword het na ’n rowwe aand. Mens neem dus aan dit is die oggend na die bal, maar sy noem dan dat sy daardie aand na die bal moet gaan.

Ek is ook nie seker of Aster instem tot Pottie se toenaderings, en sy dus ’n tipe sekswerker is, en of hy haar verkrag nie. Vir my het dit gelyk asof hy haar forseer om hom orale seks te gee, en ek neem dus aan dat die seks tussen hulle eerder verkragting is. Tog weier sy hom later en hy vererg homself só dat hy vir Asjas doodskiet aan die einde van die stuk. Sou die karakter (wat tot dusver as onbetwyfeld boos uitgebeeld is) nie bloot vir Aster verkrag as sy hom seks weier nie? Gestel Aster is ’n tipe sekswerker: wat laat haar besluit om vir Pottie te weier? Indien sy ’n innerlike worsteling hieroor het, word dit nie aan die gehoor bekend gemaak nie. Indien die stuk die grys area tussen sekswerk en verkragting probeer verken, word dit ook nie met genoeg diepgang ondersoek nie.

Laastens is die karakters ook té bewus van hoe minderbevoorreg hulle is en hoe hulle swaarkry. Hulle verwys telkens daarna, op ’n baie sentimentele wyse. Hulle sê dinge soos “die boek is nou in flarde, soos my lewe” (of iets soortgelyks) of “bestaan daar mense wat minder bevoorreg is as ons”? Die karakters hoef nie die gehoor deur hul dialoog te oortuig dat hulle swaarkry nie, dit behoort duidelik te wees uit hul omstandighede.

Die dinamika tussen Asjas en Aster is dié van ’n kinderlike kleinboetie en kwaai, streng, bekommerde ousus. Snyman het egter te min variasie in haar spel gehad en slegs binne hierdie modus gebly wat haar karakter tweedimensioneel gemaak het. Daar was ook baie ongemotiveerde bewegings. Die karakters het gereeld sonder rede oor die verhoog gestap. Dit is ook nie duidelik waarom Asjas juis op die boonste wrak móés staan om Aspoestertjie se storie te kon onthou nie, behalwe dat dit hom ’n maklike teiken maak vir Pottie (en dat mens die verskillende vlakke van die lieflike stel wil ontgin). Schütte se spel was egter oortuigend: hy het baie goed daarin geslaag om deurlopend ’n dreigende element te bly.

Voor ’n mens in die teater ingelaat word, word jy ingelig dat daar ’n paar plekke in die teks is (wat deur die plekaanwysers aangedui sal word) waar jy nader aan die handeling kan beweeg. Dit is ’n doelbewuste poging om die sogenaamde vierde muur af te breek en die gehoor tot ’n groter mate deel van die produksie te maak. Hoewel ’n mens graag wil rondloop in die realistiese stel, was hierdie gehoorbeweging vir my steurend. Ek kon goed genoeg vanaf my sitplek sien tot op die agterste dele van die stel. Die gehoor se beweging het die spanning en die vloei van die stuk gebreek. Ek dink ook dat hierdie tipe gehoorinteraksie beter werk met ’n teks waarin die gehoor ’n bepaalde funksie vervul. Die gehoor bly egter hier ’n vlieg teen die muur ten spyte van een verwysing deur Pottie wat suggereer dat die gehoor ’n skare is wat op die skrootwerf saamgedrom het.

In die progam (wat wemel van die spelfoute) noem Erasmus dat As aanvanklik geskep is vir ATKV Tienertoneel en dat hy dit hier op ’n groter skaal wou aanbied. Ongelukkig voel ek dat die produksie nooit uit sy ATKV-kinderskoene gegroei het nie. Die teks herinner aan ’n tipe improvisasie-oefening in ’n dramaklas waar vertolkings geïnspireer word deur assosiasies met die woord “as.” Die teks pak swaar temas soos armoede, geheueverlies en verkragting/sekswerk aan sonder die nodige diepgang of nuanse.

Tog dink ek dat die kombinasie van ’n onheilspellende atmosfeer en magiese realisme wel sou kon werk. Die fantastiese stel- en klankontwerp saam met die openingstablo het my herinner aan die film Lost River. Dit is jammer dat die teks en spel nie hierdie atmosfeer kon volhou nie.