“As.”

Deur: Jannes Erasmus
Met: Zoricke Snyman, Deànré Reiners, Shenay O’Brien en Sebastian Schütte
Regie: Jannes Erasmus
Stel- en beligtingsontwerp: Wilhelm Disbergen
9 Junie 2016, 20:00
Staatsteater, Momentum.

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

As begin die oomblik wanneer die gehoor by die Momentumteater instap. Plekaanwysers begelei die teatergangers deur ’n indrukwekkende stel wat ’n skrootwerf voorstel. Dit is donker en stowwerig en daar heers ’n onheilspellende atmosfeer. Motorwrakke staan opmekaargestapel, ’n vrou lê en ruk op ’n hoop rommel, haar onderklere is afgetrek tot op haar knieë. Sy is duidelik verkrag. Om die hoek slaan ’n man met ’n pyp teen ’n motorwrak. Hy is getatoeëer, kaal bolyf en duidelik gevaarlik. Hoewel ’n mens die ritmiese slae na ’n ruk begin verwag, het ek steeds elke keer geruk van die skrik. Die gehoor word gelei na ’n groepering kratte en ander wrakstukke waarop gesit kan word. Hoewel mens vooraf ingelig word dat jy op énige plek op die stel kan sit, is dit nie werklik prakties nie, aangesien daar steeds ’n afgebakende speelarea is. Die plekaanwysers het dan ook gehoorlede wat binne die speelarea gaan sit het begelei om eerder op die groepering kratte plaas te neem.

Ten spyte van hierdie effense steuring, was die atmosfeer aanvoelbaar. ’n Mens het dadelik besef dat jy ’n gevaarlike ruimte betree het waar alles nie pluis is nie. Wanneer die gehoor rustig raak, kom die spelers opgestap: hulle is versigtig en bang vir iets of iemand wat hulle moontlik agtervolg. Die oomblik wanneer hulle egter begin praat, word die amper magiese atmosfeer verbreek.

Aster (Zoricke Snyman) lees vir Asjas (Deànré Reiners) die storie van Aspoestertjie voor. Foto: Wilhelm Disbergen.

Aster (Zoricke Snyman) lees vir Asjas (Deànré Reiners) die storie van Aspoestertjie voor. Foto: Wilhelm Disbergen.

Zoricke Snyman en Deànré Reiners speel die rolle van Aster en Asjas, twee hawelose sibbe. Pottie, gespeel deur Sebastian Schütte, laat hulle op die skrootwerf woon in ruil vir seksuele gunse. Uit Aster en Asjas se dialoog word dit duidelik dat Pottie nie skroom om te moor nie. Dit word ook duidelik dat Asjas aan een of ander seldsame siekte ly wat geheueverlies veroorsaak. Tydens ’n stryery skeur Asjas en Aster hulle storieboek en in die proses “val” die karakter, Aspoestertjie, uit haar verhaal uit en land in Aster en Asjas se werklikheid. Sy vertel hulle dat die een wat haar kan terugstuur na haar werklikheid ’n belonging sal kry. Om dit reg te kry, moet iemand met ’n “rein hart” Aspoestertjie se storie vertel sonder onderbreking. Die aangewese persoon om dit te doen is Asjas wat dan hopelik, as beloning, genees sal wees van sy “siekte.” Die probleem is dat Asjas se geheue hom nie toelaat om dit te doen nie. Aspoestertjie en Aster dink wel ’n plan uit: hulle help vir Asjas om met behulp van ’n tekening van die planete op ’n ou hemp en die rympie “Meneer Van As, My Jas Sal U Nie Pas” die storie deur middel van assosiasie te onthou. Asjas sukkel egter, en dring daarop aan om op die hoogste opgestapelde wrak op die stel te staan. Hier is hy dan ’n maklike teiken vir Pottie wat wraak soek nadat Aster geweier het om hom sy laaste betaling vir hul verblyf te gee. Pottie skiet vir Asjas dood, en die vertoning eindig waar Aster en Aspoestertjie huil met Asjas se lyk in hul arms.

Aster (Zoricke Snyman) en Aspoestertjie (Shenay O'Brien) luister hoe Asjas (Deànré Reiners) die sprokie probeer onthou voordat Pottie (Sebastian Schütte) hom doodskiet.

Aster (Zoricke Snyman) en Aspoestertjie (Shenay O’Brien) luister hoe Asjas (Deànré Reiners) die sprokie probeer onthou voordat Pottie (Sebastian Schütte) hom doodskiet. Foto: Wilhelm Disbergen.

Die verhaallyn maak egter nie heeltemal sin nie. Eerstens word Asjas se “siekte” nooit verder verduidelik nie. Hy kan nie meer die alfabet opsê nie en tree kinderlik op, maar praat verder normaal en weet selfs beter as sy suster hoe om by ’n “drive thru” te bestel. Sou sy spraak nie in ander opsigte ook aangetas gewees het nie? Ek dink byvoorbeeld aan ’n film soos Still Alice of Nick Payne se toneelstuk, Constellations, waarin ’n karakter aan ’n vorm van geheueverlies ly en dit haar spraak op ’n bepaalde manier aantas. Aster toets op ’n stadium Asjas se geheue deur hom te vra hoe oud hy is, en hy antwoord dat hy tien jaar oud is. Ek is nie seker of hy vanweë sy “siekte” teruggekeer het na die verstandelike vermoëns van ’n tienjarige en of hy werklik tien jaar oud is nie. In die eerste geval word die agteruitgang op ’n eenvlakkige, vereenvoudigde manier vertolk. In die laaste geval is ek nie seker waarom Asjas dan deur ’n volwasse akteur gespeel word nie. Verder is dit ook onduidelik uit watter deel van die sprokie Aspoestertjie kom. Sy kom ingestap met slegs een skoen aan en is op soek na die ander. Haar grimering is gesmeer en dit lyk of sy pas wakker geword het na ’n rowwe aand. Mens neem dus aan dit is die oggend na die bal, maar sy noem dan dat sy daardie aand na die bal moet gaan.

Ek is ook nie seker of Aster instem tot Pottie se toenaderings, en sy dus ’n tipe sekswerker is, en of hy haar verkrag nie. Vir my het dit gelyk asof hy haar forseer om hom orale seks te gee, en ek neem dus aan dat die seks tussen hulle eerder verkragting is. Tog weier sy hom later en hy vererg homself só dat hy vir Asjas doodskiet aan die einde van die stuk. Sou die karakter (wat tot dusver as onbetwyfeld boos uitgebeeld is) nie bloot vir Aster verkrag as sy hom seks weier nie? Gestel Aster is ’n tipe sekswerker: wat laat haar besluit om vir Pottie te weier? Indien sy ’n innerlike worsteling hieroor het, word dit nie aan die gehoor bekend gemaak nie. Indien die stuk die grys area tussen sekswerk en verkragting probeer verken, word dit ook nie met genoeg diepgang ondersoek nie.

Laastens is die karakters ook té bewus van hoe minderbevoorreg hulle is en hoe hulle swaarkry. Hulle verwys telkens daarna, op ’n baie sentimentele wyse. Hulle sê dinge soos “die boek is nou in flarde, soos my lewe” (of iets soortgelyks) of “bestaan daar mense wat minder bevoorreg is as ons”? Die karakters hoef nie die gehoor deur hul dialoog te oortuig dat hulle swaarkry nie, dit behoort duidelik te wees uit hul omstandighede.

Die dinamika tussen Asjas en Aster is dié van ’n kinderlike kleinboetie en kwaai, streng, bekommerde ousus. Snyman het egter te min variasie in haar spel gehad en slegs binne hierdie modus gebly wat haar karakter tweedimensioneel gemaak het. Daar was ook baie ongemotiveerde bewegings. Die karakters het gereeld sonder rede oor die verhoog gestap. Dit is ook nie duidelik waarom Asjas juis op die boonste wrak móés staan om Aspoestertjie se storie te kon onthou nie, behalwe dat dit hom ’n maklike teiken maak vir Pottie (en dat mens die verskillende vlakke van die lieflike stel wil ontgin). Schütte se spel was egter oortuigend: hy het baie goed daarin geslaag om deurlopend ’n dreigende element te bly.

Voor ’n mens in die teater ingelaat word, word jy ingelig dat daar ’n paar plekke in die teks is (wat deur die plekaanwysers aangedui sal word) waar jy nader aan die handeling kan beweeg. Dit is ’n doelbewuste poging om die sogenaamde vierde muur af te breek en die gehoor tot ’n groter mate deel van die produksie te maak. Hoewel ’n mens graag wil rondloop in die realistiese stel, was hierdie gehoorbeweging vir my steurend. Ek kon goed genoeg vanaf my sitplek sien tot op die agterste dele van die stel. Die gehoor se beweging het die spanning en die vloei van die stuk gebreek. Ek dink ook dat hierdie tipe gehoorinteraksie beter werk met ’n teks waarin die gehoor ’n bepaalde funksie vervul. Die gehoor bly egter hier ’n vlieg teen die muur ten spyte van een verwysing deur Pottie wat suggereer dat die gehoor ’n skare is wat op die skrootwerf saamgedrom het.

In die progam (wat wemel van die spelfoute) noem Erasmus dat As aanvanklik geskep is vir ATKV Tienertoneel en dat hy dit hier op ’n groter skaal wou aanbied. Ongelukkig voel ek dat die produksie nooit uit sy ATKV-kinderskoene gegroei het nie. Die teks herinner aan ’n tipe improvisasie-oefening in ’n dramaklas waar vertolkings geïnspireer word deur assosiasies met die woord “as.” Die teks pak swaar temas soos armoede, geheueverlies en verkragting/sekswerk aan sonder die nodige diepgang of nuanse.

Tog dink ek dat die kombinasie van ’n onheilspellende atmosfeer en magiese realisme wel sou kon werk. Die fantastiese stel- en klankontwerp saam met die openingstablo het my herinner aan die film Lost River. Dit is jammer dat die teks en spel nie hierdie atmosfeer kon volhou nie.

Advertisements