AARDKLOP 2015: “Kinders van Stilte.”

Deur: Mark Medoff, verwerk deur Antoinette Louw
Met: Zane Meas, Antoinette Louw, Vicki Fourie, Jason Farao
Regie deur: Heleni Handt
7 Oktober: 20:00
Girls’ High

Hierdie teks deur Mark Medoff het ’n baie spesifieke doel: om bewustheid rondom doofheid en die marginalisering van dowes te skep. Die handeling sentreer om Jeremy (Zane Meas), ’n spraakonderwyser by ’n skool vir dowes en Sandra (Vicki Fourie), ’n volwasse leerling wat weier om te leer praat en slegs deur gebaretaal kommunikeer. Sy het onttrek van die horende wêreld en sonder haarself af in die skool waar sy as skoonmaker werk. Ten spyte daarvan dat dit moeilik is vir Sandra en Jeremy om te kommunikeer, raak hulle verlief en trou. Omdat Jeremy Sandra se onderwyser was (hoewel sy reeds ’n volwassene was toe hulle ontmoet het) en hy kan hoor terwyl sy doof is, is daar ’n ongebalanseerde magsverhouding tussen hierdie twee karakters. Sandra weier egter om dit so te aanvaar en dring daarop aan dat Jeremy en die ander karakters haar situasie vanuit haar oogpunt sien, in plaas daarvan om namens haar besluite te neem.

Die stuk is opgevoer met minimale dekor wat verskeie funksies vervul. Skaduspel is ook op ’n slim manier ingespan om afstand tussen die gehoor en karakters te skep in sekere intense tonele. Verskeie randkarakters is deur Antoinette Louw vertolk – onder andere Sandra se ma wat aan alkoholisme ly en ’n prokureur wat regshulp verleen aan Sandra en ’n vriend van haar (vertolk deur Jason Farao). Louw se wisseling tussen hierdie karakters was moeiteloos. Ook Meas, Fourie en Farao se spel was oortuigend.

Fourie het veral beïndruk in die toneel waar sy Sandra se vrees om haar stem te laat hoor uitbeeld. Deur die hele drama is Sandra doodstil hoewel Jeremy aanhou om haar aan te por om haarself met haar stem uit te druk. Wanneer sy eindelik ’n geluid maak, is haar hoë kreet roerend.

Kinders van Stilte slaag daarin om ’n horende gehoor ’n blik te gee in die lewe van dowes. Hoewel ’n gedeelte van die kaartjieverkope aan die Nasionale Instituut vir Dowes geskenk word, is hierdie toneelstuk meer as slegs ’n traktaatjie. Dit beklemtoon die komplekse maniere waarop mense kommunikeer en wat horendes dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Beide Fourie en Farao is doof of hardhorend en hierdeur dra die stuk self by om weerstand te bied teen die marginalisering van dowes.

Advertisements

2 comments

  1. Vicki Fourie · October 22, 2015

    Baie baie dankie vir hierdie positiewe resensie. Ek is bly jy het dit kom kyk en ek is bly jy het dit geniet!

    Like

  2. Leonardo Marais · October 23, 2015

    Baie ongelooflike spelstuk. Dink die boodskap is hartroerend en baie duidelik. Dit was n voorreg om dit te kon sien en dit ht waarlik n verandering gemaak aan my uitkyk teenoor ons dowes in suid africa. Hou aan Met die awesomeness , as da so n woord is (wink). aan vicky en span.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s