AARDKLOP 2015: “Moeder Moed en Haar Kinders.”

Deur: Bertolt Brecht, vertaal en verwerk deur Saartjie Botha
Met: Aletta Bezuidenhout, Deon Lotz, André Roothman, Nicole Holm, De Klerk Oelofse, Geon Nel, Juliana Venter, Jacques Theron, Cintaine Schutte, Gerben Kamper, Greta van der Merwe, Altus Moolman
Regie deur: Jerry Mofokeng
7 Oktober: 14:30
Ouditorium

Bertolt Brecht (1898-1956) is een van die mees invloedryke teatermakers van die twintigste eeu. Saam met Erwin Piscator het hy die Epiese Teater ontwikkel wat ten doel het om teatergangers sover moontlik intellektueel, eerder as emosioneel, by die drama te betrek deur middel van ’n tegniek wat bekend staan as die verfremdungseffekt. Die Epiese Teater het ’n sterk Marxistiese inslag en beoog om die gehoor aan te spoor tot vernuwende politieke denke en aksie (Law, 2011:173). Daarom word die handeling van die drama dikwels onderbreek deur liedere en breek die akteurs soms karakter en spreek die gehoor direk aan. Die spelstyl vereis dat die akteurs nié emosioneel met die karakters identifiseer nie, maar die gebeure demonstreer asof hulle ’n ooggetuie is wat verslag doen oor ’n motorongeluk (Brecht, 1968:86).

Of ’n gehoor ooit doelbewus emosioneel onaangeraak kan bly en ’n drama slegs deur hul intellek kan ervaar is ’n punt wat al deur verskeie teaterteoretici betwis is. Ook Moeder Moed, wat aanvanklik geskryf is om burgerlike opportunisme tydens oorlogstye aan die kaak te stel, word nie noodwendig so geïnterpreteer nie. Volgens Law (2011:339) wen die hoofkarakter, Anna, dikwels eerder die gehoor se guns en simpatie as hul veragting soos sy keer op keer die verpletterende aanslae van die oorlog trotseer.

Moeder Moed is ’n episodiese drama. Die gehoor volg vir Anna oor ’n typerk van twaalf jaar waar sy met haar drie kinders en haar wa van plek tot plek trek en handel dryf met wie ookal bereid is om die hoogste prys aan te bied vir dit wat sy ookal verkwansel. Die oorlogskonteks sorg vir verskeie oomblikke van spanning en dramatiese klimakse. Binne Brecht se Epiese Teater sou hierdie episodes op ’n onbetrokke manier uitgebeeld word. Onder Jerry Mofokeng se regie was dit egter nie die geval in hierdie produksie nie.

Die akteurs het met hul karakters geïdentifiseer en, ek moet hier byvoeg, hul goed van hul taak gekwyt. Aletta Bezuidenhout het absoluut oortuig as Moeder Moed wat haar kinders soos ’n tierwyfie probeer beskerm, maar terselftertyd nie emosioneel raak nie en altyd, na enige terugslag, opstaan en aangaan. Die res van die ensemble het ook beïndruk: André Roothman as die sielewinner wat nie skroom om sy kerklike affiliasie aan te pas soos dit hom sal baat nie; De Klerk Oelofse as Moeder Moed se jongste seun, Switserkaas; Cintaine Schutte as die dogter, Kattrin, wat nie praat nie. Die teks is sterk beïnvloed deur die oplewing van kabaret in Duitsland tussen die twee wêreldoorloë en die karakters het die musikale gedeeltes van die teks met die nodige oemf uitgebeeld.

Een van die treffendse tonele in die drama is wanneer Kattrin na die wa terugkeer nadat sy aangerand en verkrag is. Wanneer die besef by Anna insink trek sy woordeloos die prostituut, Yvette, se rooi skoene vir Kattrin aan. Dit is ’n wrede en ontstellende oomblik wat sonder sentiment maar met heelwat emosie gewys is. Tog het dit verdwyn tussen ’n magdom klimakse wat elkeen emosionele betrokkenheid deur die gehoor vereis.

Die stuk het daarom vermoeiend en selfs by tye melodramaties geword. Dit was ook nie duidelik wanneer die stuk eindig nie, asof die drama later begin aankarring het. Ek skryf dit toe aan die kombinasie van die teks en die regiestyl. Miskien sou óf ’n minder betrokke inslag, óf ’n teks wat heelwat gesnoei is, ’n meer treffende teaterervaring tot gevolg gehad het.

Bronnelys:

Brecht, Bertolt. 1968. “The street scene: A basic model for an epic theatre.” Translated by John Willet. In: Bentley, E., ed. The theory of the modern stage: From Artaud to Zola: An introduction to modern theatre and drama. London: Penguin. pp. 85-96.

Law, Jonathan., ed. 2011. The Methuen drama dictionary of the theatre. London: Methuen.

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s