AARDKLOP 2015: “Son.Maan.Sterre.”

Deur: Alice Birch, vertaal deur Saartjie Botha
Met: Louis van Niekerk, Lida Botha, Tinarie van Wyk Loots, Wilhelm van der Walt en Greta Pietersen
Regie deur: Christiaan Olwagen
7 Oktober, 9:00
Boys’ High

WAARSKUWING: INTRIGEBEDERWERS!

Vyf karakters sit op ’n ry voor die gordyn en spreek die gehoor direk aan. Hulle deel hul mees intieme gedagtes. Dit word geleidelik duidelik hoe dié vyf se lewens inmekaargestrengel is: Oliver (Wilhelm van der Walt) is ’n briljante jong fisikus wat Kaap toe getrek het nadat hy sy PhD by Oxford opgeskop het. Bubbles Bothma (Greta Pietersen) woon saam met haar twee woonstelmaats langs Oliver. Die twee het mekaar nog nooit ontmoet nie, maar het mekaar al opgemerk en Bubbles het ’n crush op Oliver ontwikkel. Weens redes wat ek nie hier sal bekend maak nie, beland Oliver een oggend vroeg buite Megan (Tinarie van Wyk Loots) se hek. Sy teenwoordigheid ontsenu Megan met reg. Sy is ’n gefrustreerde, swanger huisvrou wat redelik aggressief voorkom. Háár buurman is die oudonderwyser, Robert (Louis van Niekerk), wat saam met sy gestremde vrou (Lida Botha) woon.

Die vertaling is geslaagd en die stuk is moeiteloos verplaas na die Kaap. Die dramaturg is baie goed in beheer van die tempo van hierdie drama. Al vyf akteurs (en natuurlik ook die regisseur) het hulle ook uitstekend van hul taak gekwyt in hierdie opsig. Spanning word deur een steurende onthulling na die ander gebou. Wanneer vier van die vyf karakters hulself by dieselfde mark bevind word hul emosionele wroegings op ’n heel sinvolle wyse ook visueel uitgebeeld. Die gordyn gaan oop en helium-ballonne wat in ’n formasie aan die verhoog vasgemaak is word sigbaar. Daar is ook ’n reuse haasballon wat stadig opgeblaas word soos die stuk voortgaan. Wanneer Megan van aangesig tot aangesig met Robert gekonfronteer word – en dít nadat sy pas uitgevind het dat hy ’n veroordeelde kindermolesteerder is – gryp sy ’n mes en begin van die balonne lossny en ander bars. Sy steek ook ’n gat in die reuse haasballon wat dan stadig maar seker weer afblaas. Dit was ’n besonder treffende manier om die spanning en gevoel van verwarring wat reeds deur uitstekende toneelspel uitgebeeld word, te beklemtoon.

Son.Maan.Sterre is hoog aangeprys deur onder meer Laetitia Pople in Die Burger en ’n mens kan sien waarom. Die stuk roer baie ontstellende temas aan en die spel was puik. Tog was dit nie my persoonlike Aardklop-hoogtepunt nie, hoofsaaklik vanweë kontekstuele kwessies. Die styl van hierdie drama, vertelling vermeng met minimale handeling, het beslis ’n plek binne die uitvoerende kunste maar dit word té dikwels op Afrikaanse verhoë gesien. Karakters neig om ’n mikrofoon te neem en vir die gehoor dít wat eerder gewys kan word te vertel. Verder word Tinarie van Wyk Loots en Greta Pietersen te gereeld in dieselfde tipe rolle gesien. Ek kan verstaan waarom: hulle is baie goed daarmee om onderskeidelik die ernstige vrou wat nie skroom om te vloek nie en die naïewe, maltrap blondine uit te beeld. Dit het ongelukkig die gevolg dat dit vir my voel of ek dieselfde toneelstuk oor en oor kyk.

Maar, ek is miskien nou onregverdig teenoor ’n toneelstuk wat heelwat trefkrag het en ’n rolbesetting en regisseur wat reg daaraan laat geskied.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s